Kersmark en Afsluiting

Renée Swanepoel  –  November 12, 2023

 

Ds. Luané McLachlan bring vir ons ’n Kersboodskap.  Sy lees ’n stuk uit die Lig voor wat handel oor die 100 skape waarvan een weggeraak het. (Geskryf deur Sieg Louw.)  Sy lees  ook die gelykenis voor uit Lukas 15.

Die kleingoed van Murraysburg Voorbereiding vermaak ons met ritme, beweging en sang op die ritme en wysies van moderne liedere.  Tog te pragtig!

 

Ses lede ontvang geskenke vir 100% bywoning van VLV deur die jaar. Die tesourier kies hierdie geskenke met sorg uit om lede aan te moedig om getrou VLV by te woon.

 

Ses lede ontvang diensjaar knopies en word baie spesiaal deur die voorsitter, Renée Swanepoel, gelukgewens:

 

15   jaar: Adri Krüger en Margaret Martin

25  jaar:  Kay Hesselink

35  jaar:  Maretta Theron

45  jaar:  Susanna van der Merwe

60  jaar:  Winifred Grobler – ontvang blomme en ’n geskrewe gelukwensingskaartjie.

65  jaar:  Dorees Pienaar – ontvang blomme en ’n geskrewe gelukwensingskaartjie.

 

Adrie Conradie word bedank vir haar rekordtal van 38 jaar diens as bestuurslid!  Ons mis haar reeds op die bestuur en bid haar ’n algehele herstel toe.  Mag haar gesondheid ingrypend verbeter! .

 

Theresa Troskie bedank die voorsitter, Renée Swanepoel vir haar insette in ons tak gedurende 2023:  Renée is ’n ALTYD vrou.  Sy is altyd bereid om diens te lewer en is nie alleen ons voorsitter nie, maar ook Sirkelpresident van Sirkel Noord-Karoo en saamroeper vir Gesondheid op die Hoofbestuur van VLVK.  Sy is altyd positief, altyd bereid om te help, altyd beskikbaar vir Murraysburg se gemeenskap, altyd op haar pos!  Ons is trots op haar en waardeer haar insette by VLV en in Murraysburg.

 

Hierna word flink besigheid gedoen by die 8 Kersmarkstalletjies.  Daar is 8 stalletjies met o.a. ’n springkasteel, speelgoed, snoeperye, brode, heerlike koffie, ingemaakte produkte, juweliersware en houtwerkprodukte.

Read More

Dr Jaco Pienaar en die lewende hawe skip!

Renée Swanepoel  –  October 17, 2023

 

Die Al Messilah, Lewende hawe vervoerskip na Koeweit en Oman

Spreker:  Dr. Jaco Pienaar, veearts.

Dr. Jaco Pienaar, veearts van Murraysburg, was vanjaar van 26 Julie tot 15 Augustus ’n onafhanklike waarnemer-veearts op die Al Messilah.   Die Al Messilah is ’n vee-vervoerskip wat lewende hawe na Koeweit en Oman vervoer.  Daar was 38 259 skape en bokke en 3 000 beeste op die boot.  Hy vertel onderhoudend van hierdie interessante reis wat hy en sy vrou, Wilmar, wat as sy helper op die boot was, meegemaak het.  Hulle albei moes natuurlik vooraf 2 video kursusse deurloop sodat hulle vir elke probleem wat op die boot mag ontstaan voorbereid was.  Die boot is ook goed toegerus met goeie toerusting en medisyne.

Dr. Pienaar beklemtoon dat alle vorme van veevervoer potensieel gevaarlik is vir die diere, maar onder die regte omstandighede kan diere veilig vervoer word.  In Suid-Afrika is daar onlangs ’n lywige dokument met die beleid vir die vervoer van vee vrygestel.  Dit gee byvoorbeeld riglyne onder andere oor:

  • Die regte omgewing vir die diere
  • Gebrek aan rus
  • Die opbou van ammoniak en mis in die krale
  • Stres a.g.v. hitte
  • Die risiko van ’n stormloop/stampede
  • Geskikte voeding
  • Nabye kontak met mense
  • Die teenwoordigheid van veeartse

 Hoekom lewende hawe per boot vervoer en nie vlieg of die vee slag en dan vervoer nie?

  • Die onkoste is min of meer die helfte minder per boot
  • Kopers verkies varsgeslagte karkasse bo bevrore vleis
  • Geloofsoortuigings
  • Per boot is daar nie ’n koue ketting wat maklik gebreek kan word nie

Op die boot was alles baie georganiseerd.  Die dagprogram is stiptelik op die minuut uitgevoer.  34 Mans het die vee versorg.  Dr. Pienaar en sy vrou moes elke oggend en elke aand al die vee deurgaan, vorms invul en probleme aanmeld.  Probleme is onmiddellik opgelos.

Die vee kry ’n spesiale dieet wat veroorsaak dat hul mis nie baie nat is nie.  Die mis vorm later ’n mat onder in die krale.  Vee word effe vuil van die mis, maar nie so dat dit hulle skade kan berokken nie.  ’n Erge en onverwagte hittegolf het die boot egter getref en van die vee het as gevolg daarvan gevrek.  Daar was niks wat daaraan gedoen kon word nie.  Die diere het genoeg vars lug gekry, maar die hitte was te erg!  As skape onder hierdie omstandighede natgespuit word, vrek hulle.  Dr Pienaar en sy vrou het met ’n spuit fyn misreën op die beeste gespuit en dit het baie verligting gebring.

Oorsake van vrektes onder lewende hawe op die boot:

  • Aanpassing
  • Pneumonie
  • Clostridia
  • Mankhede
  • Hittestres
  • Oorvet vee en dragtige diere is meer kwesbaar vir hitte stres

In Oman en Koeweit was die aflaaigeriewe baie goed.  Rye vragmotors staan gereed om te laai en vee gaan reguit na die kopers (slagpale of voerkrale) toe.  Interessant is dat die bakke van die vragmotors uitgelê is met persiese matte – dis hulle manier om te keer dat die vee gly!

Voordele van bootvervoer vir lewende hawe vir Suid-Afrikaanse boere:

  • Dit het ’n groot invloed op die markprys.
  • Boere kry ’n baie goeie prys vir kwaliteitdiere.

Dr. Pienaar is baie positief oor die boot.  Die omstredenheid waarin die boot gehul was, was grootliks as gevolg van onkunde oor die omstandighede vir die lewende hawe op die boot.

Dr. Pienaar se foto’s en vertellings het baie negatiwiteit oor hierdie manier van vervoer van lewende hawe by ons vroue verminder.

 

Tuinbou:  Elana Grobler verskaf ’n beproefde lys van tuintake vir elke maand.  Sy verskaf ook ’n saamgestelde lys van geharde plante wat in die Karoo groei.

Eiertekort:  Elana verskaf ’n resep vir die bewaring van rou eiers aangesien eiers nou skielik skaars is.  Dit gaan nog vir lank skaars wees a.g.v. voëlgriep wat uitgebreek het.  Groot hoender-/eierboere het bekend gemaak dat hulle nou slegs een kwart van hul hoender-vervangingsgetalle gaan kry.

Recipe:  Such an easy process and your eggs lasts for months.

 Fresh unwashed eggs, no poop or mud on eggs.

5 litre glass jars with lids, work well, but food grade plastic buckets will also work fine.

Pack your eggs carefully in your chosen container.

 

Mix:      30 g slake lime/calcium hydroxide  (at pharmacies, super cheap.  It is R16 for 50 g)

1 litre of borehole water or filtered water

The lime will not dissolve, this is normal.

 Pour over the eggs until covered 100%.

Seal your container.

That’s it!

Your eggs can last up to 2 years like this! However, I could of course not test it yet.

 

Security on Line:  Bruce McLachlan, ’n internetkundige, verduidelik dat alles wat ons op die internet plaas iewers op iemand se rekenaar eindig.  Dit raak nooit weg nie!

  • Bruce verduidelik hoe Password Manager werk en moedig ons aan om hiervan gebruik te maak.
  • Vir aanlyn aankope: hanteer alle webwerwe asof hulle nie veilig is nie.  Google “is legit” en die webwerf se naam.  Het die webwerf ’n fisiese adres?  Gaan die adres na op Google Maps.  Bel die
  • ’n Praktiese wenk om scams te identisiseer is om jouself af te vra of jy iets bestel het, aan iets deelgeneem het of iets verwag.  Indien nie, waarskynlik ’n
  • Moenie op onbekende skakels/links klik nie.
  • Maak e-pos oop om na te gaan, maar moenie aanhangsels oopmaak nie.

 

Read More

DAMES OGGEND SEPTEMBER 2023

Renée Swanepoel  –  September 28, 2023

 

7 de Damesoggend vir Huishulpe

 

Op 14 September was dit weer tyd vir ons jaarlikse bederfdag vir ons huishulpe.

40 dames het opgedaag en 9 lede was teenwoordig.  Die voorsitter, Renée Swanepoel, het afgeskop met ’n

gepaste opening en verwelkoming.  Sy stel die dames bekend aan die geskiedenis en doel van VLV, nl. volwasse opvoeding

Sassa ToelaesRenée verduidelik waar die staat se geld vandaan kom.  Almal betaal belasting

of BTW.  Almal wat ’n vaste werk het, betaal Inkomstebelasting.  Dienste wat op Murraysburg vir

inwoners beskikbaar is, bv. die hospitaal, die SAPD, Opvoeding (skole), ens. word dus befonds met ons

elkeen se geld.  Indien ons sien dat daar vandalisme van staatseiendom of vermorsing van

staatsgeld plaasvind, is dit so goed asof ons eie geld of eiendom vermors of beskadig word! Dit is

onaanvaarbaar!  Dit is ons plig om dit aan te meld.  Misdrywe kan anoniem gerapporteer word.

 

Die vrou/ma kaptein van haar huis en gesin.”

 

Theresa Troskie vertoon foto’s en vertel van Ernest Shackleton, die Suidpool ontdekkingsreisiger,

se skip die Endurance.  Die Endurance het 107 jaar gelede by die suidpool gesink en is verlede

jaar eers weer ontdek.  As gevolg van Shackleton se sterk leierskap en goeie besluite was al 27

bemanningslede na omtrent 450 dae op die suidpool weer veilig terug in Engeland!  Hulle het

oorleef in die uiterste koue, vreeslike ontberings belewe, verskriklike omstandighede en dikwels sonder kos.

 

Theresa trek ’n parallel tussen ’n ma en Shackleton as leier.  Ma’s is dikwels die stuurman/kaptein

van ’n huis of gesin.  Endurance beteken uithouvermoë, maar dit beteken ook om baie en moeilike dinge te

kan verduur.  Elke vrou en ma moet soms baie moeilike dinge verduur.  Gelukkig is ons as vroue met die

leierseienskappe gebore om ’n huishouding te kan lei en bestuur asook om kinders groot te maak.  Ons huis

met al sy mense is ons boot en meestal is ons die kaptein van daardie boot, net soos Shackleton die kaptein

van die Endurance was en die hele bemanning van die boot gelei en bestuur het in verskriklik moeilike

omstandighede.

 

Wat maak ’n mens met ’n stout kind?  ’n Ma vat daardie kind onder haar vlerk, sy koester hom en sy gee liefde, sy bestuur hom en sy lei hom sonder dat hy dit eers agterkom!  Ons ma’s is mos slim!  Ons weet mos dat as almal ’n kind net altyd slegsê en raas gee, dan dink die kind later hy is net sleg en treurig, want almal om hom dink dan so, maar as sy ma dink daar steek goeie dinge in hom, dan gaan hy dalk begin twyfel en dan gaan hy dalk so begin optree dat hy sy ma ook gelukkig kan maak!  As ’n kind dink almal verwag net die slegste van hom, dan is dit presies wat hy gaan word.  Hy moet weet, sy ma/ouers verwag beter van hom en sy/hulle glo in hom en sy ma/pa moet hom lei om vorentoe te beweeg net soos die bemanning in die reddingsbootjie!

Net soos kaptein Shackleton, die leier van die bemanning die manne laat glo het dat dit moontlik is om sukses te bereik, net so is dit elke vrou en ma se plig om ons huismense te laat glo, dat niks onmoontlik is nie en dat ons met vasberadenheid, deursettingsvermoë en bereidheid om soms baie te verduur, daar tog sukses op ons elkeen wag, want dit hang van jouself en jou keuses af wat van jou gaan word.

LES:  NIKS is onmoontlik nie, GEEN omstandighede is so sleg dat ek nie daaruit kan loskom nie.

Gebaretaal, ons 12de amptelike taal:

Hannelize van Heerden verduidelik dat Gebaretaal nou ons 12de amptelike taal is.  Sy maan die vroue om oplettend te wees teenoor gehoorgestremdes en dat dit goed is om iets van Gebaretaal te leer.  Sy leer die gehoor om ’n paar sinne in gebaretaal te sê.  Almal doen hartlik mee!

Speel-speel van ashoop na

Helen Botha en haar huishulp het die oulikste speelgoed uit afval gemaak en uitgestal.  Sy gee raad en wenke om kinders konstruktief besig te hou. Speel-speel leer ons om:

  • Te lees, te skryf en korrek te spel
  • Goeie wiskundige vaardighede
  • Selfvertroue en maklik maats maak (sosialiseer)
  • Probleme op te los en kreatief te kan dink
  • Onafhanklik te wees
  • Deelname aan sport, musiek, kuns, ens.

Spel is die belangrikste aktiwiteit vir ’n kind wat hom/haar in staat stel om alles te leer in die eerste paar jaar van hul lewens.

Helen versuidelik aan die mammas dat daar verskillende tipes spel is en hoe elkeen ’n belangrike deel van kinders se grootword uitmaak:  fantasiespel, fisiese spel, gestruktureerde speletjies met reëls en konstruksie spel.

 

Food Sock:

Lynzelle van der Merwe stel Food Sock maaltye aan die dames voor.  Hierdie maaltye het net voordele.  Dit is goedkoop, heerlik en voedsaam.  Dit bevat ook soja wat byvoorbeeld help met gemoedskommelings tydens menopouse!  Dit is ook energie-doeltreffend, want dit word vinnig in ’n pot gaargemaak. Daar is 8 verskillende maaltye beskikbaar.  Lynzelle het ’n verskeidenheid voorberei en die dames kry elkeen ’n bakkie vol om te proe.

 

 

Read More

VLV leer van pottebakkery

Renée Swanepoel  –  September 27, 2023

 

Pottebakkery Werkswinkel

 

Adri Krüger, saamroeper van Kunste en Handvlyt, verwelkom vir Janet Kingwill.  Janet is ’n bekende plaaslike kunstenaar, sy het ons ingelei in die wêreld van die pottebakker. Sy sê dat as ’n mens met klei werk, jy onwillekeurig daaraan dink dat jyself klei is in die hande van die Groot Pottebakker. God kan van die gewone iets beeldskoon, uitsonderlik en uniek maak. Soos ons uit stof geskape is, is klei ook maar net stof wat met water bymekaar gehou word!  Indien die klei gelos word om onversorg uit te droog, word dit weer net stof, maar as jy iets moois en funksioneel uit die klei gevorm het, dit gebak en versorg het, het jy ’n kunswerk of nuttige gebruiksartikel.

 

Sy verduidelik ook aan ons die verskillende maniere waarop pottebakkerswerke gevuur kan word. Die klei word in die oond teen baie hoë temperature gelouter, gebak, geglasuur, ens. en as dit uit die oond kom, lyk dit anders en soos ’n nuwe skepping!

 

Janet demonstreer hoe ’n “pinch pot” gemaak word en ons volg haar voorbeeld, daarna volg diere uit balle klei, borde vir soutigheid en selfs ’n monstertjie of twee!  Dit gebeur alles, terwyl ons liggies teug aan ’n glasie wyn!  Vyf VLV-kinders het ook lustig meegedoen en pragtige skeppings gemaak.

 

Read More

Matriekbemagtiging

Renée Swanepoel  –  September 27, 2023

 

17 de BEMAGTIGINGDAG  VIR  56 MATRIEKS – MURRAYSBURG HOëRSKOOL

  1. OPENING & VERWELKOMING: –  Gesondheid – geestesgesondheid
  • Theresa Troskie
  1. GEDRUKTE BOEKIE vir elke leerling:
    • Wenke en voorbeelde vir dekbrief/aansoekbrief/begeleidende brief;
    • Wenke vir opstel van CV;
    • Optrede by onderhoud;
    • Sosiale media en die werkplek;
    • Kursusse en kontakbesonderhede – in die omgewing;
    • Lys van 51 facebook-groepe vir werksoekers.
  • Theresa Troskie –  Openbare sake

 

  1. OPTREDE BY ONDERHOUD –  Opvoeding en kultuur

 

  1. SOSIALE MEDIA EN DIE  WERKPLEK             – Openbare Sake

 

  1. ROLLESPEL: “Jy is jou eie Handelsmerk.”          – Kunste en Handvlyt

Werksonderhoud vir pos as winkelassistent by Kay’s Kafee, Murraysburg.

 

2 leerders is vraestellers en 4 is die paneel.         –  Opvoeding en Kultuur

(Renée & Theresa)

 

  1. HULPMIDDELS VIR JOU LEWENSREIS – Opvoeding en Kultuur

Lewensvaardighede

  • Renée Swanepoel

Konflikhantering

  • Renée Swanepoel

 

  1. INLIGTING OOR BEROEPE  EN  OPLEIDINGSINSTELLINGS:

(Graaff-Reinet en omgewing) – Theresa Troskie

6.1        Bankwese                                             –  Openbare Sake

6.2        SAPD Akademie, Graaff-Reinet              –  Openbare Sake

6.3        Grootfontein Landboukollege                    –  Landbou en Tuinbou

6.4        South African College for Tourism           –  Leefstyl

6.5        East Cape Midlands College                   –  Openbare Sake (Tegnologie)

6.6        Oos-Kaap Akademie vir Veewagters       –  Landbou en Tuinbou

6.7        Lys met 51 facebookgroepe vir werksoekers  –  Openbare Sake

 

  1. GASKUNSTENAAR: Edward Daniëls                 –  Kunste en Handvlyt

R300

  1. UITDEEL VAN:
    • Februarie: R150 per leerder sal oorbetaal word as bydrae vir matriekbaadjies. Donasie  R8 400.
    • Wegneemete (Jeanette) R65 X 56 =  R3640                    –  Leefstyl
    • Cupcakes (Maryn) – R8 elk = R448
    • Skryfbehoeftes vir eindeksamen – R739
  2. GROOT DANK AAN  ONS  VRYGEWIGE BORG:    MARELI  VISSER, Kraaifontein Murraysburg wat hierdie dag al vir soveel jare moontlik maak.

 

Read More

VLV Potpourrie Augustus 2023

Renée Swanepoel  –  August 9, 2023

 

Voorlesing:
Alna Theron doen ’n prettige voorlesing geskryf deur Kristel Loots uit die Rooi Rose: Eerbare vrou
bak en brou: ’n stadsmeisie word boervrou/skoondogter en sluit by die VLV aan. Sy besef sy sal by
’n gebak kompetisie moet uithaal en wys om skoonma te beïndruk. Sy gaan koop ’n spog melktert by ’n tuisnywerheid, “kneus” hom so ’n bietjie en wen die eerste prys, maar ai, die gevolge …!

Entrepreneur: Adri Krüger met haar besigheid, Stokkiesdraai
Toe haar keusevakke op skool nie haar goedkeuring weggedra het nie, het sy uiteindelik in die houtwerkklas beland. Ver bo haar verwagting was haar vreugde om iets met haar hande uit hout te skep! Na skool het haar houtwerk ’n heerlike stokperdjie geword.

Adri vertel dat haar besigheid gebore is uit haar stokperdjie. Aanvanklik het sy geskenke vir vriende gemaak, later het sy bestellings gekry en toe het sy vir die mark begin skep. Wanneer sy in haar houtwerkwerkswinkel is, is sy op haar gelukkige plek, tyd staan stil en sy is in ’n wêreld van haar eie. Hier vloei haar kreatiwiteitsappe en skep sy na hartelus! Sy sien haarself as ’n kunstenaar wat nie kan verf nie!

Adri herwin ou deure, vensterrame, kosyne, ens. Hieruit skep sy portretrame, spieëlrame, kaasplanke, bedkopstukke, kaste, speseryrakkies en selfs geweerkolwe!

’n Hoogtepunt was die paar jaar wat sy vir 8 Murraysburgseuntjies houtwerkklasse aangebied het. Hulle het geleer om die gereedskap te hanteer en artikels suksesvol te voltooi. So kon hulle ook die vreugde om te skep ervaar.

Onlangs het daar ’n baie ou sipresboom voor die pastorie in Murraysburg omgeval a.g.v. reën- en stormweer. Adri het van die hout herwin, laat droog en die pragtigste artikels gemaak. Elke artikel is gekoppel aan Murraysburg se ontstaan 150 jaar gelede toe hierdie bome geplant is.

Demonstrasie: Rykmanskatkop
Renée Swanepoel demonstreer ’n rykmanskatkop.
Bestanddele: 1 heel wit brood
1 houertjie maaskaas of roomkaas
1 pakkie gesnipperde, gebraaide spek
1 koppie gerasperde cheddarkaas.
Metode:
• Voer ’n broodpan uit met foelie.
• Sny die bo-kors van die brood in die lengte af en hol die brood uit sodat net die korsgedeelte oorbly. Sit die brood in die pan wat met foelie uitgevoer is.
• Meng al die ander bestanddele en geur na smaak, bv. sout en peper, gerookte paprika, knoffel, soet chilliesous, ens.
• Skep die mengsel in die brood, plaas die bo-kors van die brood bo-op en vou toe met foelie.
• Bak vir een uur @ 180°C.
• Haal uit die oond, maak die foelie oop.
• Bedien saam met brooddeksel, wat in repies gesny word. Ook die onderste deel van die brood word afgesny en geëet totdat die vulsel op is!

Die effek van kos op jou gesondheid.
Elana Grobler deel interessante waarnemings oor die uitwerking wat kos op jou gesondheid kan hê. Sy beklemtoon dat ’n mens nie altyd met ’n eerste diagnose tevrede moet wees nie. Sy raai ons aan om te gesels met ander kundiges, vriendinne en kennisse en ’n dokter, wat ook geneig is om die natuurlike pad met tradisionele behandeling te kombineer, te vind.

Elana vertel van ’n vriendin wat al lank aan fibromialgie ly. Die erge en aanhoudende pyn in haar liggaam het haar lewenskwaliteit drasties verlaag. Na vele diagnoses, die gebruik van verskillende medikasie, het sy op aanbeveling van ’n kennis ’n refleksoloog besoek en haar dieet begin volg.

Dieet:
Hoofsaaklik rou groente.
Kies óf proteïne óf stysel.
Geen koffie – koffie onttrek kalsium en magnesium uit jou liggaam.
So min as moontlik gepreserveerde produkte.
Geen gluten.
Geen suiwelprodukte.

Nadat sy hierdie dieet ’n tyd lank gevolg het, het sy gevind dat sy baie meer energie het, baie minder pyn het, dat sy heelwat gewig verloor het en dat sy haar medikasie onder haar dokter se toesig drasties kon verminder.

Elana vertel van ’n ander kennis wat al op die ouderdom van 21 jaar gediagnoseer is met romatoïede artritis. Sy moes daagliks ’n handvol pille hiervoor drink. Sy het die newe-effekte van die pille so erg beleef dat sy chronies naar was en gesukkel het om kos binne te hou.

Uit radeloosheid het sy oorgeskakel na natuurlike kosse en die dokter het haar medikasie so ver moontlik natuurlik gehou. Sy moes ook oplet na die bymiddels by haar medikasie en sekere bymiddels sover moontlik vermy. Sy het bv. toe geleer dat origanum candida doodmaak.

Na hierdie oorskakeling kon sy slegs 2 pille per dag drink en was haar simptome van die romatoïede artritis baie beter.

Enige besluit rakende jou gesondheid of die behandeling daarvan MOET in samewerking met jou dokter gedoen word. Hierdie is slegs waarnemings, nie feite nie.

Read More

VLV Leefstyl 2023

Renée Swanepoel  –  April 16, 2023

 

Lugbraaier of Waaierbraaier of Airfryer. Wat is dit?

Dit is ’n kombuistoestel wat kos d.m.v. warmlugsirkulasie gaarmaak. Hulle is tegnies ontwerp om die voordele van die konvensionele diepbraaier en die konveksie-oond te kombineer. Dit werk met ’n meganiese waaier wat warm lug binne ’n kookkamer gelykmatig sirkuleer, gewoonlik by ’n temperatuur van 180°C en 200°C.

Lugbraaiers word in drie kategorieë verdeel:
1. Statiese lugbraaiers met ’n nie-roterende kookkamer;
2. Dinamiese lugbraaiers met ’n roterende kookkamer;
3. Halogeenoonde waarin spesiale halogeenlampe as verwarmingselement ingespan word met statiese of dinamiese deursigtige glaskookkamers.

Phillips het die eerste lugbraaiers in 2010 bekendgestel. Die lugbraaier bevat ’n verhittings-element met ’n waaier wat die hitte na die kos toe blaas en die kos dus gaar “blaas”.

Voordele van lugbraaiers:
1. ’n Lugbraaier bereik binne 2 tot 5 minute ’n hittegraad van 200°C. Hy hoef dus nie vooraf opgewarm te word nie. Kos word ook aansienlik vinniger gaar. Dus bespaar die lugbraaier baie krag en is energie-doeltreffend.
2. Kos wat in ’n lugbraaier gaargemaak word, is gesonder, want geen olie of botter hoef in die lugbraaier saam met kos gebruik te word nie. Bevrore kos het ook geen olie nodig nie, maar om groente ’n bietjie meer bros te braai, kan dit liggies bespuit word met kanola-, avokado- of olyfolie.
3. Die lugbraaier is veilig, want jy werk nie met warm olie of ’n warm oond nie.
4. Lugbraaiers word maklik skoongemaak met skottelgoedseep en water. Die meeste lugbraaiers se bakke kan selfs in skottelgoedwassers gewas word.
5. Enige gewone oondbak wat in die lugbraaier pas, kan daarin gebruik word.

Interessant!
• Lugbraaiers gebruik 1200 – 1800 Watt
• ’n Insta Pot gebruik 1000 – 1500 Watt
• Oond van ’n konvensionele stoof gebruik 2500 – 4000 Watt
• ’n Slow Cooker gebruik 600 – 800 Watt

Die tyd wat hierdie verskillende apparate gebruik om kos gaar te maak, moet natuurlik ook in gedagte gehou word as jy aan kragbesparing dink.

Wenke!
• Bepaal jou behoeftes en koop die grootste lugbraaier wat daarvoor geskik is.
• Broodrolletjies, koekies en brood kan baie suksesvol in die lugbraaier gebak word.
• Spinasie, krulkool, rys, pasta of pap kossoorte wat in deeg gedoop is, en drup, moet liefs nie in die lugbraaier gaargemaak word nie.

8 Stylfoute wat vroue maak (Saamgestel deur 5 voorkomskonsultante.)

Alna Theron bespreek hierdie stylfoute en demonstreer dit met lede in die gehoor se
kleredrag:

1. Jy koop nie die regte grootte klere nie: Klere wat te groot of te klein is vir jou lyf. Dit
gaan nie oor die grootte van die klere nie, eerder oor klere wat jou perfek pas en jou
liggaamsvorm die beste laat lyk.

2. Jy balanseer nie jou proporsies nie: Niemand lyk goed met ’n lospassende uitrusting
van kop tot tone nie. Balanseer jou proporsies deur byvoorbeeld eerder stywe klere bo
en los klere onder te dra of andersom.

3. Jy neem nie jou stylpersoonlikheid in ag nie: Jy bewonder iemand se styl en wil dit
dan ook probeer omdat die persoon mooi lyk, maar jy moet eerder dra dit waarvan jy
persoonlik hou, dit wat by jou liggaamsbou, leefstyl en persoonlikheid pas. Dit sal jy met
meer selfvertroue dra.

Verskillende style is byvoorbeeld:
• Klassiek – tydlose items in neutrale kleure;
Elegant – netjies en afgerond, kwaliteit bo kwantiteit;
• Neutraal – geen fieterjasies, bv. plat skoene. Gemak is prioriteit;
• Dramaties – bold klere met uitspattige patrone en dramatiese bykomstighede;
• Vroulik – gemaklik in ’n rok met afrondings van bv. strikke, kant en valle;
• Retro – hou van die modes van die 70’s, 80’s en 90’s;
• Boho – ’n vry gees met boheemse smaak, onkonvensioneel;
• Aanloklik – wil graag uitstaan en spog graag met kurwes, noupassende items en
lae halse;
• Kreatief – uitspattig, ’n natuurlike eksentrieke, flair wat lukraak items bymekaarsit en dit laat werk;
• Rocker – swart, swart en swart. Stewels en skinny jeans.

Vroue kan ook meer as een persoonlikheidstyl hê. Jy kan bv. elegant sowel as klassiek wees. Soos wat ’n mens ouer word, verander jou stylpersoonlikheid ook soms. Soos wat jou persoonlikheid groei en jy verskeie lewenservarings het, verander jou stylpersoonlikheid ook soms.

4. Jy koop nie kledingstukke volgens jou lyfvorm nie: Jou lyfvorm, bv. peervorm, bepaal die tipe kledingstukke wat jy moet kies.

5. Jy dra verkeerde skakerings van kleure: verkeerde kleure plaas ’n demper op jou
voorkoms.

6. Jy pas nie klere aan voordat jy dit koop nie: neem tyd en pas verskillende groottes en kleure aan om te sien waarin jy die beste lyk.

7. Jy kies mode bo styl: oor modegiere moet jy jouself afvra of die kledingstuk by jou liggaamsbou, velkleur, ouderdom, leefstyl en jou huidige klerekas pas?

8. Jy dink ’n voorkomskonsultant is te duur en onnodig: ’n besoek aan ’n voorkomskonsultant is die geld oor en oor werd! Hulle som jou vinnig op en gee wonderlike leiding.

Read More

My journey met borskanker

Maretta Theron, saamroeper vir Gesondheid en Juanita Bellingan

Renée Swanepoel  –  March 12, 2023

 

My reis met kanker:
Juanita Bellingan wat in Murraysburg-distrik boer, het na ongereelde maandstondes geweet dat sy ’n dokter moet besoek. Sy het ’n familiegeskiedenis van kanker en is toe ook op 27-jarige ouderdom met borskanker gediagnoseer. Die kanker was aggressief en daar moes gou gespeel word. In ’n 4 uurlange operasie het sy haar een bors verloor en is daar dadelik voorbereidings getref vir rekonstruksie van die bors.

Na die operasie het sy baie pyn verduur en sy het ook geworstel met die feit dat sy nou vir die volgende 10 jaar verplig was om voorbehoedmiddels te gebruik. Sy het besef dat haar kanse om kinders te kan hê baie skraal was. Sy moes onmiddellik begin met chemoterapie en dis tydens so ’n sessie wat ’n wonderlike dokter oor haar pad gekom het en gemoedsrus gegee het met die woorde: “Here met my … en God se wil is nie ons wil nie.” Dit het haar gerusgestel en rustig gemaak.

Die chemoterapie was ’n nagmerrie, sy kon nie slaap nie en sy kon absoluut niks eet of drink sonder om naar te word nie. Selfs haar eie speeksel het haar naar gemaak! Sy vertel dat wanneer hulle die chemoterapie (oftewel die Rooi Duiwel) in haar are ingespuit het, kon sy dit hier by haar hart voel, sy kon voel hoe haar arms en bene lam word en sy het ’n aaklige smaak in haar mond gekry. Menige dae het sy gevoel asof sy nie verder kan nie, maar dan het sy maar weer haar kop opgelig en voortgestrompel!

Sy was alleen en eensaam, want dit was midde-in die Covid-19 pandemie! Niemand kon saam met haar gaan om haar te ondersteun, te troos of moed in te praat nie!

Juanita Bellingan is ’n dapper, jong vrou wat ’n traumatiese pad gestap het a.g.v. van die Covid-19 pandemie en die feit dat sy nie ’n voldoende mediese fonds gehad het nie, meestal alleen en met die hulp van staatsdokters en staatshospitale moes regkom. Sy het nog nie die einde van haar pad bereik nie, want daar wag nog operasies en behandeling op haar.

Intussen salueer ons haar vir haar moed en geloof wat haar fisies en emosioneel staande laat bly op hierdie moeilike pad!

Water en my liggaam:
• Maretta Theron gee die volgende wenke oor die noodsaaklikheid van water vir ons liggame:
• 75% van ons liggame bestaan uit water en ons moet dit in stand hou.
• Genoeg water help jou liggaam om te detoks.
• Drink water 30 minute voor etes, dit laat jou versadig voel en voorkom dat jy te veel eet en onnodig gewig aansit.
• 2 liter water per dag verhoog jou metabolisme met 30%!
• Drink voorkomend water, want teen die tyd wat jy dors is, is jy klaar byna ontwater.
• Interessante feit: ’n Mens kan 5 dae oorleef sonder water.
• Gebruik liefs ’n glas waterbottel, want baie plastiekbottels stel estrogeen vry.
Voordele van water vir my liggaam:
• Water verlig die las op jou niere;
• Dit bevogtig die weefsel van die oë, mond en neus;
• Dit reguleer jou liggaamstemperatuur;
• Dit beskerm jou organe en weefsel;
• Dit hou jou gewrigte soepel;
• Dit voorkom hardlywigheid;
• Water los voedingstowwe op en stel dit vry aan die liggaam;
• Water vervoer voedingstowwe in ons liggame.

Read More

VLV begin met POTPOURRI!

Renée Swanepoel  –  February 11, 2023

 


SIRKEL: Noord-Karoo
TAK: Murraysburg
PORTEFEULJE: Potpopurri-vergadering
DATUM: 8 Februarie 2023
BERIGGEWER: Theresa Troskie
Bol ’n Vlieg
’n Vliegwyfie lê tot 900 eiers in haar lewe van plus minus 30 dae. Almal weet, hoe minder vlieë, hoe minder siektes! Alna Theron demonstreer die werking van ’n groot vlieëvanger wat sy van Takealot af bestel het. Die toestel slaan op soos ’n tent wat oor lokaas neergesit word. In hierdie geval word die lokaas onder water geplaas en geen onaangename reuke versuur die omgewing nie. Dit werk baie doeltreffend.
Die Fyner detail om ons
Hannelize van Heerden wys verskillende voorwerpe aan ons. Op elkeen is daar iets wat die meeste van die tyd misgekyk word. Soos haar gewoonte is, is daar ook weer ’n kompetisie by haar aanbieding ingesluit!
• ’n Klein gaatjie aan die onderkant van ’n slot? Sodat water daaruit kan loop en die binnewerke nie roes nie.
• Gaatjies bo in alle balpuntpendoppies? Sodat ’n kind kan asemhaal indien hy per ongeluk so ’n doppie sou insluk.
• Die lussie agter by ’n hempskraag van ’n man? Die oorsprong is in die vloot waar matrose hul hemde aan die lussies opgehang het
sodat dit nie kreukel nie. Sommige hemde het vandag nog lussies agter by die kraag.
• Waarom gaatjies en bultjies op die oppervlak van ’n gholfbal? Dit laat die balle verder trek.
• Die pyltjie by die petroltenkmeter op die paneelbord van ’n motor? Dit dui vir die bestuurder aan aan watter kant die motor se petroltenk is wanneer brandstof ingegooi moet word.
• Die opgehewe strepies op die letters F en J op ’n rekenaar se toetsbord? Vir blindes om hul weg daar te vind.
• Knoppies/drukkertjies op die hoeke van alle jeans se sakke? Die verstewig die sakke as hande daarin gedruk word.
• Waarom kan die koprusse van voertuie uitgehaal word? Om ’n venster daarmee te kan uitslaan indien nodig.
Die wetenskap van geluk
Susanna van der Merwe moedig ons aan om meer in die oomblik/bewustelik/met mindfulness te lewe. ’n Mens kan nie ’n pil drink om gelukkig te wees nie. As jy dink dit gaan sleg met jou, dink aan alles wat jy het wat jy nie met geld kan koop nie! Reik uit na ander, moenie net vir jouself lewe nie – dit maak jou innerlik gelukkig om van jouself te gee. Niemand kan innerlike geluk van jou wegneem nie. Dinge kan nie innerlike geluk bring nie. Lewe met blydskap en lewe nóú! Lewe bewustelik, gebruik die tyd om die alledaagse te geniet, vind vreugde in die omgewing en natuur. Maak tyd vir wat werklik belangrik is.

Wat is jou bra-grootte?
Alna Theron vertel dat as ’n mens gewig aangesit of verloor het, jy ewe skielik sukkel om jou bra-grootte te bepaal en om ’n bra te kry wat goed pas, die nodige ondersteuning gee en jou boonop mooi laat lyk.
Om jou bra-grootte te bepaal, meet jy jou bors eers onder jou borste deur. Jy moet egter in duime meet. Die meeste maatbande het duime aan die een kant en sentimeters aan die ander kant. Dit bepaal die nommer van jou bra, bv. 36 duim is dan ’n nommer 36 bra. Dan meet jy jou borsmaat oor jou borste. Dit bepaal die cup grootte van die bra. Die verskil in duime word getel, bv. 1 duim = A-cup, 2 dm = B-cup, 3 dm = C-cup, 4 dm = D- cup, 5 dm = DD/E-cup. Sy beveel aan dat ’n mens vir ’n konsultasie na ’n plek soos Storm in a G-cup moet gaan vir goeie resultate en bra’s wat goed pas.
So maak jy kaasstrooitjies
Johanna van der Merwe demonstreer die maak van kaasstrooitjies. Dit is ’n heerlike versnapering op ’n kaasbord of saam met drankies. Sy sê dat sy altyd botter gebruik vir die beste resultate. Bestanddele word in ’n menger gemeng tot dit klonterig is. Hierna uitgehaal en gebrei tot ’n deeg. Rol sowat 7mm uit en sny kaasstrooitjies van omtrent 1 cm x 8 cm.
Sy gee ook wenke oor die maak van skons en wys die regte grootte drukkers vir skons en teeskons. Na ons byeenkoms het almal ’n glasie wyn of vrugtesap saam met haar kaasstrooitjies en heerlike skons geniet. Sy deel haar resepte met ons:
Kaasstrooitjies

250 g Botter
230 g Cheddar kaas
350 g meelblom
12,5 ml Ina Paarman Garlic Pepper
10 ml Droë mosterd
3 ml Rooi peper

• Sny botter in blokkies
• Rasper kaas.
• Meng meel en speserye by tot glad en rol uit.
• Sny kaasstrooitjies.
• Bak teen 180°C vir ongeveer 30 min tot dit liggies verkleur.

Botterbroodjies (Skons)
500 g Bruismeel
250 ml Room
250 ml Sprite
’n Knippie Sout

• Meng en druk plat en druk uit.
• Moenie te veel hanteer nie.
• Smeer botterbroodjies met melk.
• Bak teen 180°C vir 12 – 15 minute

Read More

VLV Murraysburg vier 90ste verjaardag!

Renée Swanepoel  –  November 27, 2022

 

90 ste Verjaarsdagviering in die Skousaal, 19 November 2022

• 17 lede en 21 gaste was teenwoordig.
• Groeteboodskappe is ontvang van Barbara Theron en Johanna van der Merwe.
• Borge: KVB en Murraysburg DLV – bedank.
• Johanna het Murraysburg VLV se geskiedenis van die afgelope 90 jaar kernagtig en interessant saamgevat en Renée Swanepoel lees dit voor.
• Renée Swanepoel stel ’n heildronk op ons tak in met die woorde van Jaco van den Berg, voorsitter DLV: “Die Murraysburg Landbouvereniging wil van hierdie geleentheid gebruik maak om die Vrouelandbouvereniging van Murraysburg geluk te wens met hulle 90ste bestaansjaar. Die VLV het in hierdie tyd diep spore getrap in die gemeenskap en as lede van die Landbouvereniging bedank ons elke VLV lid vir hulle onbaatsugtige diens en ondersteuning. Niks is meer indrukwekkend as ’n vrou wat vas staan in die unieke manier waarop God haar geskape het nie – Simone Trollip.”
• Tannie Dorees Pienaar, wat reeds 63 jaar lank lid is, sny die verjaarsdagkoek.
• Elsabé Aldrich, ’n pretprater lewer ’n opgewekte motiveringstoespraak.
Winnie the Pooh aan Piglet: Watter dag is dit?
Piglet: Dis vandag.
Winnie the Pooh: My gunsteling dag.
Sy eindig op ernstiger noot om ons in die regte gees vir Kersfees te kry.
• Almal geniet ’n heerlike buffet-ete.
• Daar is 6 stalletjies by die kersmark.

Read More