Quaggasdrift
Quaggasdrift is geleë in die Sneeuberge met Doornbosch en Grand View aan die noordekant, die Kamdeboo aan die oostekant, Weltevrede aan die suidekant en Ringfontein en Coetzierskraal aan die westekant.
Akkommodasie
Ottersgat
Gerestoureerde eenvertrek klip bywonershuis in Ottergatkloof
Geen elektrisiteit – kerse en paraffienlampe, warm water, spoeltoilet en stort, vuurherd en gasstoof
Slaap 4 persone; selfsorg, beddegoed en handdoeke op aanvraag Stap, voëls kyk – voëlneste, swem in rivier, sonbrand op massiewe ronde klippe langs rivier, braai in die populierbos, 4 x 4 roete, graf van onbekende Engelse soldaat (Anglo Boereoorlog)
Gerestoureerde opstal
Bly by die Troskies oor in die groot gerestoureerde opstal.
2 x enkelbeddens, badkamer, braaikamer – eenheid op boonste verdieping
2 kamers met ’n dubbelbed in elk, 2 kamers met 2 enkelbeddens in elk, 1 badkamer in lang privaat gang
Mobiele braaigeriewe vir braai op die grasperk of onder die bome
Beddegoed word voorsien; Handdoeke op aanvraag
TV 1,2,3, eTV, Geen DSTV, leefvertrek, privaatingang
Wasgoed op aanvraag gewas en gestryk
Etes soos vooraf gereël sal voorsien word teen ’n billike tarief
Aktiwiteite
Jag op aanvraag in die jagseisoen (winter), Sterrekyk! Kunsvlieghengel in Lake Sneeuberg kan met buurman gereël word – 2 km soos die kraai vlieg, ry agter op ’n 4 x 4 bakkie vir Toorberg Panorama – 25km (3 ure) en kyk af op die Kamdeboo en Aberdeen se vlaktes, ens. –“sundowner” of piekniekmandjie op die berg op aanvraag. (1½ uur)
Waterfall
Contact Us
Anthonie & Theresa Troskie
Sneeuberg road GPS coordinates : 32″ 06 013′ S 24″01 214′ O |
|
+27 49 – 853 9913 | |
quagga@isat.co.za |
Geskiedenis van Quaggasdrift
Quaggasdrift is geleë in die Sneeuberge met Doornbosch en Grand View aan die noordekant, die Kamdeboo aan die oostekant, Weltevrede aan die suidekant en Ringfontein en Coetzierskraal aan die westekant. Volgens oorlewering het die plaas vroeër aan familie van die Van der Merwes van Jonkersnek, Murraysburg behoort. Die plaas is rondom 1919 deur Archie Lückoff gekoop. In daardie stadium het dié deel van Weltevrede waar die opstal en groot gronddam vandag is ook aan Quaggasdrift behoort. Op aandrang van Jan Pienaar sr (Rooipoort) is dié deel aan hom afverkoop.
Quaggasdrift het vroeër oor besonder baie natuurlike water en fonteine beskik. Soveel so, dat ’n afvaardiging van Graaff-Reinet se munisipaliteit in 1946 die moontlikheid ondersoek het om die plaas se water te pyp dorp toe. Wyle Ian Minnaar (Kleinfontein), was aangestel om die fonteine op Toorberg te monitor. Drie van die fonteine het ’n stroom water van ± 50 000 gelling per uur gelewer. Teen ’n koste van £1 miljoen het die munisipaliteit die voorgenome projek laat vaar.
Omdat die plaas hoog in die Sneeuberge lê, is die somers kort met strawwe winters. In 1986 is ’n minimum nagtemperatuur van -18º C oor ’n periode van 2 dae buite gemeet. Die opstal lê op 1 500m bo seevlak wat hoër as Tafelberg, Kaapstad is. Toorberg is ’n bekende berg in die omgewing en die roman, Toorberg, van Etienne van Heerden (‘n boorling van Doornbosch) speel in die omgewing van die berg af. Die hoogste spits is ± 2 350m bo seevlak. Dit is die derde hoogste piek in die Wes-Kaap. Hiervandaan kan ’n mens op ’n helder dag die Swartberge naby Oudtshoorn, Cockscomb by Patensie, Bruintjieshoogte by Somerset-Oos, Kompasberg en Nardousberg maklik sien. Die gebied verteenwoordig agtien distrikte.
Quaggasdrift beskik oor slegs een kaart- en transportakte en met ’n grootte van
9 041ha is dit die grootste enkel plaas in die distrik. Dit was tot 1966 in Lückoff besit, tot in 1980 in die besit van J.J. Brink waarna die Troskies dit gekoop het en steeds daar woon. A.g.v. die ligging van die plaas leen hy hom by uitstek ook vir eko-toerisme.
Vandag beskik die plaas oor talle paaie wat uiters geskik is vir 4 x 4 voertuie. In een van die baie klowe op die plaas, is ’n gerestoureerde kliphuis met ’n matjiesgoed plafon waar besoekers nog met kerse en paraffienlampe en ’n knetterende vuurtjie in die agtergrond kan gaan slaap! Daar is egter moderne ablusiegeriewe. Hoewel dit net 3 km van die opstal af is, maak die stilte en afsondering jou ore hier seer!
Op pad na die kliphuis in “Ottergat” ry u al met die waterloop langs deur Arendskloof. U ry verby die graf van ’n onbekende, gesneuwelde Engelse soldaat wat tydens die Anglo-boereoorlog hier gesterf het. Daar is talle watergate met otters, vandaar die naam “Ottergat” en voëlneste – onder andere die nes van ’n hamerkop, ’n breëkop arend en ’n paar witkruisarende. Van tyd tot tyd hoor jy die roep van die visarend wat ook soms hier opgemerk word…
Troskie Geskiedenis
Christiaan Truschky is gebore op 21-12-1766 en het as agtienjarige jongman op 2-7-1784 as fusilier diens aanvaar by die Nederlandse Getrooieerde Oos –Indiese Kompanjie. Hyself was, sover ons weet, afkomstig uit Danzig (GDansk). Volgens die kontrak wat hy met die V.O.C. aangegaan het, waarvan die oorspronklike in die besit is van mnr. Christiaan Troskie van Kokskraal, Cookhouse, sou hy na Indië (Batavië) afreis om daar vir ’n tydperk van 5 jaar as soldaat in diens van die V.O.C. te staan.
Wat presies tussen hom en die Hollanders gebeur het, weet ons nie. Feit is dat hy aan die Kaap aan land gekom het en sy weg na Graaff-Reinet gebaan het waar hy ’n baie suksesvolle en hoog aangeprese smedery bedryf het. Daar bestaan glo vandag nog enkele voorbeelde van sy werk, bv. stange en stiebeuels wat hy gesmee het.
Die spelling van sy van moes redelik vroeg reeds in Suid-Afrika fonetiese verandering ondergaan het van Truschky na Troskie.
Hy is op 30-10-1792 hier in Suid-Afrika getroud met Aletta Louwisa Enslin en uit hierdie huwelik is 10 kinders gebore. Ons as familie-groep het belang by die derde seun, George Frederick Christiaan wat getroud is met Gezina Wilhelmina Bodenstein. Hulle het twee seuns gehad, nl. Johan Christiaan en Casparus Gerhardus. Eersgenoemde is op 9-2-1847 getroud met Susanna Maria Cornelia Botha en hulle nageslag tel 17 seuns en dogters waarvan 4 klein oorlede is.
Die oudste seun uit hierdie huwelik, weer eens ’n George Frederick Christiaan Troskie, het in die jare van die ontwikkeling van die diamantdelwery te Kimberley in die vorige eeu, transport gery tussen Port Elizabeth en Kimberley. Uit sy verdienste met die bedryf het hy die plaas Olievenfontein in die Pearston distrik gekoop en hom daar gevestig. Hier was hy ’n gesiene inwoner en het aktief deel gehad aan die bedrywighede van die gemeenskap. Hy was dan ook vrederegter en tydens die oprigting van die plaaslike Ned. Geref. Gemeente se kerkgebou, was hy een van die boukommissielede.
2010 – Vandag boer Jan Christiaan Troskie getroud met Josine Troskie (néé de Ruyter) op Olievenfontein en Middelplaas, Pearston. Hulle het een seun, Jan Herman. Jan is die jongste seun van A.J. en Gina Troskie.
Die oudste seun ook A.J. Troskie het grond in die Murraysburg-distrik, Quaggasdrift, en Graaff-Reinet-distrik, Waterfall, en boer tans daar. Hy is getroud met Theresa Francifca Troskie (néé van Niekerk van Uitenhage).
Hulle is geseënd met 4 kinders: A.J. Troskie jr getroud met Claudie (néé Harding); Elizabeth getroud met Cornelis Smith Claassen;
Therese (student – 4 de jaar fisioterapie); Gina (student – 2 de jaar Regte).
Hierdie G.F.C. Troskie is getroud met Maria Catherina Siebertina Michau, op 30-12-1867. Van hulle 12 kinders het een as jong seun gesterf. Die ander 11 het almal groot geword, is getroud en het die familie verder uitgebou.
Die jongste dogter, Johanna Helena, is vandag nog die enigste oorlewende kind van daardie huisgesin. Sy was getroud met wyle ds. H.J. de Vos, jare lank verbonde aan die Abraham Kriel Kinderhuis.
Nou is dit die afstammelinge van hierdie George Frederick Christiaan Troskie en Maria Catharina Siebertina Michau wat op DV 6, 7, en 8 April te Pearston saam gaan feesvier om die 200 jarige aankoms van ons eerste voorsaat in Suid-Afrika in herinnering te roep.
Van hierdie egpaar lyk die getal nageslag heel indrukwekkend:
Kinders 12
Kleinkinders 48
Agterkleinkinders 135
Agter-agterkleinkinders ± 290
Agter-agter-agterkleinkinders ± 14
Dus ’n nageslag van op een na 500 wat verspreid is oor die hele land. Daar is natuurlik al heelwat reeds oorlede. Ons verwag sowat 170 op 7 April te Pearston, wanneer die familiefees sy hoogtepunt bereik.
Die bogenoemde Troskie-fees is in 1984 op Olievenfontein, van oupa Anthonie Johannes en ouma Gina (Gezina Susanna) Troskie (néé Maree) gehou. Die nasate is natuurlik nou al baie meer!