Dames oggend September 2021
Renée Swanepoel – December 15, 2021
Michelle Swiegers, regs bo, Chrisna Avenant, Hannelize van Heerden en Elana Grobler middel links, Renée Swanepoel middel regs.
Murraysburg VLV voorsitter, Renée Swanepoel, het die 30 gaste en 10 VLV lede welkom geheet met die voorlees van ’n gedeelte van ’n gedig van Karen Zoid:
”En as jy ooit voel
Die lewe is net een groot gesuffer
Reik jou hande uit
En help ander
Met minder
As jy
Gaan maak iemand bly
Want dan sal jy
Altyd kan saam sing
As die musiek begin speel
En dans in
Die somer se reën”
Covid-19:
Maretta Theron, sameroeper vir Gesondheid, motiveer die dames om die paadjie van inenting te stap. Sy deel vars statistiek oor Covid-19:
- Op die oomblik is nog net 12% van SA se mense ten volle teen Covid-19 ingeënt.
- Eers as 70% van ’n land se inwoners ingeënt is, is daar kudde-immuniteit.
- 4,55 miljoen mense wêreldwyd het al aan Covid-19 gesterf.
- 219 miljoen mense wêreldwyd het al Covid-19 gehad.
- 86 967 sterftes aan Covid-19 is al in SA aangeteken. Dit is 12 keer al die inwoners van Murraysburg!
Van die 30 gaste is 24 reeds ingeënt teen covid-19.
Lees vir voorskoolse en skoolgaande kinders:
Chrisna Avenant, onderwyseres by Murraysburg Primêre skool, gee wonderlike wenke aan mammas van klein kindertjies om speel-speel en sonder baie gekoopte hulpmiddels, hul kinders te help om hul leesvermoë te ontwikkel en te verbeter.
- Sy behandel die volgende onderwerpe op ’n informele wyse en met voorbeelde sodat mammas kan sien dat die meeste van hierdie vaardighede aangeleer word deur te speel (baba/peuter/4jr):
Lees is baie belangrik, dit maak wêrelde vir jou oop: voor perseptuele vaardighede; lateraliteit; middellynkruising; ruimtelike oriëntasie; koördinasie en ritme; ouditiewe en visuele persepsie; rigting en volgorde; woordeskat en taal.
- Wat kan ek met my klein kindertjies (gr. R/gr.1) doen om hulle te stimuleer? Léés vir hulle; aksierympies; leer nuwe woorde bv. tydens etenstye; moedig brabbellees aan; vertel stories van prente; tref verband tussen eie stories en boekstories; skryf woorde op flitskaarte en plak in vertrekke in huis op; speel luister speletjies; luister regtig na jou kind; geheuespeletjies.
- Skoolkinders (6j plus): kyk elke dag na huiswerk; wees in kontak met jou kind se opvoeding; lees saam met jou kind; herhaal, herhaal, herhaal – skoolwerk; tyd met jou kind is nooit verlore nie.
Leefstyl demonstrasie:
Michelle Swiegers doen ’n demonstrasie van ’n ekonomiese, maar anderse, hoendergereg. Afval hoendervleis kan hiervoor gebruik word.
- Sy het die koste per porsie bereken as jy jou bestanddele op Murraysburg gekoop het.
- Dit is ’n heerlike eenskottelgereg, dus bitter min skottelgoed om agterna op te was.
- Sy maak gebruik van ’n induksieplaat, wat blitsvinnig warm word en boonop lig op kragverbruik is.
Openbare Sake. Herwinning demonstrasie:
Renée Swanepoel demonstreer die maak van inkopie- of drasakke uit verskillende groottes Montego hondekossakke.
’n Groot sak moet verkieslik gestik word om gewig te kan dra, maar ’n klein sakkie kan op ’n slim manier met duct tape
Aanmekaargeflans word.
Kunste en Handvlyt:
Ekward Daniels, oftewel Trompie, vermaak die dames met die sing van die mooiste Afrikaanse volksliedjies.
Akkedissie; Jan Pierewiet; Skipskop ensovoorts.
Landbou en Tuinbou:
Die sameroeper, Elana Grobler, verduidelik deur middel van ’n blitsflitsaanbieding alles wat jy moet doen nog voordat jy kan begin om ’n groentetuin te maak:
- Kies ’n geskikte plek op jou werf vir jou tuin: Is water geredelik bekombaar? Kry die plekkie oggendson of middagson?
- Van watter kant af waai die wind?
- Waarin kan jy alles tuinmaak?
- Goeie voorbereiding van die grond is baie belangrik.
Die maak van jou eie kompos vir jou groentetuin, word ook bespreek:
- Die verskillende lae en wat elke laag moet bevat;
- Geen gaar oorskietkos, sitrusskille, vleis, suiwelprodukte, siek plante of honde- of katmis nie.
- Die beste mis vir ’n komposhoop is, perdemis en hoendermis. Varkmis, skaapmis en beesmis kan ook gebruik word.
- ’n Hokkie van palette of sink, sal goed werk.
- Jy kan ’n sloot grawe waar jy die volgende jaar wil plant en jou kompos daarin maak, na een jaar, word die sloot dan toegegooi en jou plante word daarin geplant.
- Maak die grond los, gooi ’n eerste laag takkies; tweede laag is bruin kompos; dan ’n laag groengoed; daarna mis, beenmeel en kalk. Spuit elke laag liggies nat.