DAMES OGGEND SEPTEMBER 2022

Renée Swanepoel  –  September 25, 2022

 

Murraysburg het ouder gewoonte weer op 14 September hul jaarlikse Damesoggend aangebied.  Die nege en vyftig gaste wat opgedaag het, het alle verwagtinge oortref!  Nege VLV lede was teenwoordig en het die program behartig.

 

Renée Swanepoel, voorsitter, open met die lees van ’n gedeelte oor die gevaar van die tong uit Jak. 3.  Sy vra een dame om die tandepasta uit ’n buisie te druk.  ’n Ander een moet dit egter weer terugsit … onmoontlik, natuurlik!  Net so kan ons nie negatiwiteit, skinderpraatjies of vloektaal wat by ons monde uit is, weer terugkry nie! Hierna val die gaste spontaan in met die sing van “Môre my hart!”  (Gesondheid)

 

Volgende aan die woord is Openbare sake (Renée Swanepoel) met die onderwerp “SASSA – die Government moet sorg!”  Sy wys op praktiese wyse met plakkate aan die teenwoordiges waar die regering se geld vandaan kom.  Alles wat die regering besit, is dus in effek ons s’n ook, want dit is met ons belastinggeld gekoop!  Ons moet dus “ons” eiendom beskerm asof dit ons eie is en ook vir ons kinders leer om dit te respekteer en op te pas.

 

Susanna van der Merwe gaan voort met Openbare Sake en haar praatjie handel oor “Respek”.  Die gaste hang letterlik aan haar lippe en beaam hardop dat hulle saamstem met wat sy sê!  Ons is almal koningskinders en deur God geskape.  Daaarom is ons sterk en kan alleen staan.  Liefde en respek gaan saam om lewe as ’n eenheid te vervolmaak.

 

Stap dus wég van negatiwiteit en besluit om gelukkig te wees. Onthou altyd dat “one flower can be your garden” en “one good friend can be your world”.

 

Die onlangse afsterwe van koningin Elizabeth II van Engeland het ons weer gewys hoe belangrik dissipline in ons lewens moet wees!  Sy was ’n voorbeeld van iemand wat gedissiplineerd haar werk as koningin altyd eerste gestel het.  Leer jou kinders om gedissiplineerd te lewe:  staan soggens op, maak jou bed op, gaan eet, gaan borsel  jou tande (voordat jy aantrek en dalk jou skoolklere bemors!), trek aan en maak jouself netjies, stap skool toe, wees vriendelik en groet jou maatjies en onderwysers, let op in die skool, sê baie dankie en totsiens en stap terug huis toe.  In ’n huis met dissipline, loop alles elke dag reg!  Al hierdie dinge gee vir jou en jou kinders selfrespek.

 

Verder, wees vriendelik en ’n aangename mens, wees ’n dienaar wat graag ander help met takies.  Leer jou kinders om skaam te kry as hulle sit of speel en Mamma alleen staan en skottelgoed was of die huis of werf vee.  Hulle moet opstaan en gaan help!

Om ’n blink kroon as ’n Godskind te dra, moet jy regop wees!  Susanna sit ’n kroon op en demonstreer hoedat ’n vrou maklik en netjies soos ’n dame uit ’n glasie kan drink met jou kroon op jou kop.  As jy egter gulsig word en sommer ’n bottel gryp om uit te drink, val jou kroon af as jy jou kop agteroor buig!  As jy vir jou kinders al hierdie mooi eienskappe en  waardes leer, sal hulle vir jou en ook ander volwassenes respekteer.

 

Hannelize van Heerden is aan die woord vir Opvoeding en kultuur.  Vir ’n lekker ontspanningsitem demonstreer sy verskillende slaapposisies en elkeen moet besluit hoe hy lê en slaap.  Sy gee daarna die eienskappe van persone vir elke slaapposisie.  Dit sorg vir baie pret!

 

Miemie Hoffman (Leefstyl)  wys van die pragtige poppe wat sy maak en verkoop.  Sy was reeds daarmee besig toe hulle ’n kursus oor entrepreneurskap in Murraysburg kon bywoon.  Sy het baie geleer en wil graag  haar poppebesigheid uitbou.  Twee jong dogters het ook hierdie kursus bygewoon en demonstreer aan ons hoedat hulle krale, ringe en selfs oorbelle uit papier en gom leer maak het en wat hulle dan verkoop. (Kuns en kultuur)

 

Roos demonstreer die maak van ’n ekonomiese soutgereg en deel reseppies daarvoor uit. (Leefstyl)

 

Landbou.  Elana Conradie praat oor die waarde van plante en spesifiek potplante in die huis.  Die groenigheid lig sommer ’n mens se gemoed!  Dit verbly jou hart as jou potplant mooi groei en blom! Koolstofdioksied word uit die lug opgeneem en suurstof afgegee en daar word selfs gesê dat ’n mens beter konsentreer en leer in ’n vertrek met plante in.  Elana beklemtoon ook die waardes van die spekboom en demonstreer hoe om dit te plant en aan die groei te kry.  Sy het ’n heerlike spekboomkoek gebak waaraan die gaste tydens teetyd kon proe.

 

’n Woordvoerder Risiha  vertel hulle is ’n regeringsorganisasie in Murraysburg wat kinders uit hul moeilike omstandighede neem na ’n gevoel van “ek kan, ek kan glimlag, ek is sterk en ek het hoop!”  Die dames van hierdie projek het opleiding by Maatskaplike Dienste in Kaapstad ontvang en is terug in Murraysburg om hul leuse Vulnerability to Resilience hier onder kinders te kom bewerkstellig met hul werk.  Opvoeding

 

Na hierdie vol en leersame oggend ontvang elke dame ’n geskenkpakkie in die vorm van gelukkige nommertrekkings, drink tee en geniet heerlike toebroodjies, terwyl Trompie, ons plaaslike sanger, hulle met sy pragtige sang vermaak.  Kuns en kultuur.