DAMES OGGEND
Renée Swanepoel – September 25, 2026

Gesondheid
Sanette Joubert, plaaslike predikantsvrou, open deur te beklemtoon dat Tyd Kosbaar is. Sy illustreer die vervlietendheid van ons lewe deur dit te vergelyk met toiletpapier wat in verskillende stadiums is: ‘n vol rol simboliseer jou hele lewe lê voor jou. Hoe meer die rolletjie gebruik word, hoe vinniger gaan dit na die einde toe. Ons moet die tyd uitkoop, soos die Bybel ons ook aanraai.
Spreker: Vrou wees – Die krag in jou hande
‘n Vrou kan ‘n ma, ouma, eggenote, dogter, suster, werker of ‘n vriendin wees. Maar voordat ons enige hiervan is, is ons ‘n mens wat waarde het. Om ‘n vrou te wees beteken nie om perfek te wees nie, almal maak foute, almal raak moeg. ‘n Sterk vrou is nie iemand wat nooit probleme het nie, maar iemand wat sê: “Ek het ‘n moeilike dag gehad, maar môre probeer ek weer”. ‘n Vrou se hande kan baie dinge doen: ‘n kind optel, kos maak, iemand troos, werk, ‘n huis skoonmaak, ‘n siek mens versorg en selfs iemand se lewe beter maak. Jou hande is nie klein nie. Jou werk is nie klein nie. Jy is nie klein nie. Kinders volg grootmense se voorbeeld na. As hulle sien Ma skree, leer hulle om te skree. As hulle sien Ma drink wanneer sy probleme het, leer hulle dieselfde gewoonte aan. As hulle sien Ma werk hard, leer hulle hard werk. Ons hoef nie perfekte ma’s of vrouens te wees nie, ons moet net probeer om ‘n goeie voorbeeld te wees. Alkohol is vir sommige mense deel van hul ontspanning, maar dit kan ook stadigaan ‘n mens se lewe oorneem. Sy demonstreer die effek wat oor-matige alkohol gebruik het m.b.v. ‘n glas water: alles wat belangrik is word deur water verteenwoordig. Indien jy enige iets anders belangriker ag, is dit soos sand of klippies wat jy by die water gooi. Daar is op die ou end nie meer plek vir die belangrike dinge /mense in jou lewe nie. Goeie nuus is dat ‘n mens oor kan begin. ‘n Vrou moet ook vir haarself sorg, want ‘n mens kan nie uit ‘n leë koppie skink nie. Praat met mense as jy hartseer is of vra hulp as jy sukkel. Rus wanneer jy kan. Nog ‘n vraag wat ‘n vrou haarself moet afvra: “Wat wil ek hê moet hulle eendag van my onthou?” Sekerlik nie “Ma het altyd ‘n skoon huis gehad nie” of “Ma het altyd alles reg gedoen nie”. Liewer: Ma het my liefgehad, Ma het hard gewerk, Ma het nie opgegee nie, Ma het probeer om die regte ding te doen, Ma het my gewys hoe om sterk te wees. Ter afsluiting:
- Onthou altyd: Ek is ‘n vrou. Ek het waarde. My keuses maak ‘n verskil. En deur my voorbeeld kan ek iemand anders se lewe verander.
- Sy gebruik ‘n mandjie met verskillende items: ‘n sleutel, want ek het die sleutel tot my eie keuses; hoe ek my geld gebruik, beïnvloed my huis; seep sê ek sorg vir my huis, maar ek moet ook vir myself sorg; ‘n pop, want kinders leer deur wat hulle sien; ek kies water wat goed is vir my liggaam; ‘n bottel, want ek moet besluit of alkohol my baas gaan wees.
Kunste en Handvlyt:
In ligte luim, word twee videogrepe aan die dames vertoon:
- Tolla van der Merwe se storie van die Drie Varkies en Rooikappie.
- Die liedjie Nkalakatha van Mandoza word gespeel. Dit kry die dames aan die beweeg, tot die predikantsvrou verras ons met ‘n paar “steps”!
Leefstyl:
Maretta Theron demonstreer ‘n eenvoudige, ekonomiese hoendergereg. Sy het tuis die gereg gebak en die dames kon heerlik daaraan smul. Saam met ‘n koppie koffie was daar ook heerlike toebroodjies.
Elke dame kry ‘n klein geskenkie deur gelukstrekkings.
