Gesondheid 2020!
Renée Swanepoel – March 6, 2020
Die spreker, Elizma Steenkamp, spreek die onderwerp BE BRAVE – BODY, MIND & SOUL aan. Sy neem ons op ’n geestelike reis na ’n plek waar jou liggaam, siel en gees mekaar ontmoet en jy in totale harmonie lewe. ’n Plek waar jy dapper genoeg is om die “stories” van skuld, angs, vrees, skande, woede en onvergenoegdheid uit jou kop te haal. Om buite jou kop te staan en in te kyk, al die negatiwiteit uit te werp en jouself te vul met God se waarheid van liefde en lig.
Die plek van liefde en lig waar jy elke dag opstaan en besluit dat die dag wonderlik gaan wees!
Die plek van liefde en lig waar jy vreesloos die einde kan sien waar jy wil wees.
Die plek waar jy goed doen aan ander omdat jy kan.
Dié plek waar jy van jou slimpraatjies ontslae raak in ruil vir God se waarheid van liefde, lig en goedheid.
Renée Swanepoel noem ’n paar basiese maatreëls wat ons elkeen kan tref om die Corona virus te troef:
- Moenie paniekerig word nie;
- Neem ’n griepinspuiting;
- Wees versigtig – was byvoorbeeld jou hande gereeld met seep en water en vir ten minste 20 sekondes lank;
- Dra ’n masker indien nodig en onthou dat die nasorg van die gebruikte masker baie belangrik is – verbrand dit!
- Vermy kontak met jou eie en ander se gesigte en hande;
- Moenie alles wat op die internet oor die Corona virus verskyn vir soetkoek opeet nie, baie is vals gerugte.
- Pas op dat die baie berigte wat op die internet verskyn jou nie op hol jaag nie! Baie mense sterf dalk daagliks in ons land aan ander oorsake as die Corona virus.
Hierna volg ’n lewendige vloerbespreking oor die onderwerp. Hannelize van Heerden meld dat die eerste SA slagoffer van die virus, ’n man van KwazuluNatal wat pas terug is van Italië, vandag op 5 Maart, aangekondig is.