Gesondheid

Renée Swanepoel  –  July 2, 2024

 

oplus_1058

Verskillende mediese sake tydens Gesondheidsvergadering op Murraysburg aangespreek

 

Tinnitus:  (Suising/geraas in jou ore.)

 Maretta Theron, Murraysburg se saamroeper van Gesondheid, bespreek hierdie ongemaklike en gevaarlike siekte.

  • Dit is wanneer ’n mens ’n geluid hoor waar daar geen geluid in die omgewing is nie.
  • Tinnitus gaan meesal gepaard met ’n vorm van gehoorverlies, hetsy tydelik of permanent.
  • Gehoorverlies kom voor wanneer die gehoorstelsel op enige manier beskadig is.

Algemeenste oorsake:

  • Ouderdom: tot 30% van bejaardes het soveel gehoorverlies dat hulle ’n gehoorapparaat benodig.
  • Blootstelling aan harde geraas, bv. geweerskote, oorfone wat gehard gestel is, ens.
  • Medikasie wat toksies is vir die gehoorstelsel, bv. sekere soorte antibiotika, diuretika en kankermedisynes.
  • Fraktuur van die skedelbeen naby die oor.
  • Meniére siekte.
  • Sekere aangebore afwykings en ook goed- of kwaadaardige tumore.
  • Tinnitus wat kloppend van aard is, mag dui op patologie van ’n bloedvat, bv. ’n aneurisme of blokkasie, dus ’n ernstiger toestand.

Hoe maak ’n mens tinnitus beter?

  • Skakel direkte oorsake bv. medikasie, uit.
  • By ouderdomsverskynsels kan die onaangename geraas met ’n aangename klank, bv. musiek vervang word.
  • Luister na boekvoorlesings of ander interessante klankproduksies.
  • Leer jou brein om dit te ignoreer.
  • By betekenisvolle gehoorverlies, kan ’n gehoorapparaar van waarde wees.
  • Vandag se gehoorapparate pas heeltemal in die oorkanaal in en is nie meer sigbaar van buite nie.

Bron:  Dr. Francois Retief se blog. 16 Maart 2013.

Murraysburg Hospitaal en die dienste wat daar aangebied word

Renée Swanepoel het by die hospitaal gaan ondersoek instel oor die dienste wat daar aangebied word.  Die  hospitaal het ’n groot getal personeellede in diens, en bied ’n wye verskeidenheid dienste aan, bv:

  • Noodgevalle kan gestabiliseer word voordat pasiënte afgevoer word na groter hospitale;
  • Steke word uiters professioneel ingesit;
  • By die Trauma-eenheid word almal wat in nood verkeer gehelp;
  • Tydens spesiale, nasionale gesondheidsdae word ’n program met aanbiedingsdae bv. bewusmakingsdae, jaarliks gevolg.
  • Die hospitaal is skoon en word goed bestuur.

 Toerusting waaroor die hospitaal beskik is:

  • Ingeboude suurstof;
  • Ventilator;
  • “New puff masjien” vir babas;
  • Twee broeikaste;
  • Warfarin: INR;
  • Bloeddrukmeter – die outydse soort, maar werk selfs beter as digitale eweknieë.

oplus_1058

oplus_1058

oplus_1058

Gebreide seekatjie:

Maretta vertel van geskenkies wat vroeggebore babas en hul ma’s in Londen by hospitale kry.  Die babas kry gebreide seekatjies wat vir die babas net soos hul naelstring voel.  Babatjies wat met so ’n seekatjie by hul lê, is rustiger en meer tevrede.  Die seekatjie word gebrei van 100% katoen en die stopsel is anti-allergies.

 

Die ma’s kry ’n klein gebreide hartjie met ’n mooi versie daarby wat simboliseer dat die baba se hart by die mamma is.

’n Tienpuntplan vir  gesonde eetgewoontes:

  • Drink ’n groot glas water voor ete;
  • Skep slegs ’n porsie kos uit en hou daarby;
  • Eet altyd aan tafel en uit ’n bord;
  • Moenie voor die TV eet waar jou aandag afgelei word nie;
  • Eet stadiger en waardeer die smaak van die kos;
  • Wanneer die verskillende porsies kos nie aan mekaar raak op jou bord nie, is jou porsies groot genoeg;
  • Eet die gesonde kos op jou bord eerste, dalk is jy versadig voordat jy by die ongesonde kos kom!
  • Vermy slaaisous wat vol vette is. Gebruik liefs olyfolie en balsamiese asyn as geurmiddels;
  • Skep oorskietkos dadelik in houers en bêre in yskas sodat dit nie ’n versoeking is om nog te eet nie;
  • Volgens navorsing verdwyn die hunkering na ongesonde eetgoed binne 20 minute. Hou uit voordat jy tussen etes aan iets ongesonds peusel.