Kersmark en VLV-afsluiting 2021
Renée Swanepoel – November 13, 2021
Murraysburg se Kersvergadering en Kersmark het in die pragtige tuin van Paul en Jeanette Avenant plaasgevind. 18 Uitstallers se stalletjies was reeds om die vergaderplek opgeslaan en het gesorg vir ’n feestelike en gemoedelike atmosfeer. 23 uit 24 van ons lede het die vergadering bygewoon, sowel as 32 gaste en 23 kinders!
Soos elke jaar het die voorsitter, Renée Swanepoel weer vir ons ’n prag takpublikasie, die Onderonsie, opgestel en laat druk! Elke bestuurslid kon bydraes vir 3 of 4 A4 bladsye oor haar studierigting bydra.
Luané McLachlan, dominee van die NG Kerk, bring ’n treffende boodskap oor haar Kersfeestradisies as kind
en nou ook as ma, asook Kerstradisies van verskillende lande. Na aanleiding van Fil. 2: sê sy dat blydskap verkry word deur eensgesind te wees. Christus was gehoorsaam tot aan die kruis. Die teenwoordiges kry geleentheid om hul persoonlike Kersfeestradisies met mekaar te deel. Die resep vir ’n geseënde Kersgety is saamgevat in een woord: Immanuel – Christus met ons! Leef dit uit!
Onder leiding van hul onderwyseres, Zezia, lewer die leerders van Murraysburg Voorbereiding twee items van sang en beweging. Soos altyd, geniet die volwassenes dit gate uit om die kindergesiggies dop te hou..
Renée Swanepoel vereer namens VLV Murraysburg, vir Leoni Slabbert as Vonkelvrou vir 2021. Hierdie toekenning word slegs toegeken as daar werklik ’n verdienstelike persoon is. Leoni Slabbert word vereer vir haar onbaatsugtige werk in die breë Murraysburggemeenskap. Ons as VLV-lede sien dit raak, waardeer dit en wil haar graag vereer en bedank daarvoor. Sy ontvang ’n oorkonde en bos rose.
Adri Krüger demonstreer hoe om ’n takbokkie te maak met ’n sepie, pypskoonmakers en ’n waslap. Dit kan as plekaanwyser gebruik word of op ’n bed neergesit word as ’n geskenkie vir ’n gas in die Kerstyd.
Johanna van der Merwe en Theresa Troskie oorhandig VLV wapentjies aan ons 2 nuwe lede: Luané McLachlan en Michelle Swiegers.
Theresa Troskie, Renée Swanepoel en Dorees Pienaar ontvang geskenkies vir 100% bywoning.
Diensjaarknopies word oorhandig aan: Hannatjie Fourie 15 jaar; Magda van Heerden 20 jaar;
Christa van Heerden 25 jaar en Theresa Troskie 35 jaar.
Die vergadering verdaag en die inkopies en sosialisering kan begin! Die bestuur het heerlike eetgoed voorberei wat in die skadu van die bome saam met ’n glasie vonkelwyn/vrugtesap geniet kon word.