Landbou en Tuinbou Oktober 2022
Renée Swanepoel – October 30, 2022
Orgideë: Elana Grobler, Murraysburg se saamroeper van Landbou en Tuinbou vertel dat daar 28 000 verskillende orgideëspesies in die wêreld voorkom, waarvan die Kaapse Disa een is. 90% groei op die grond en die res in bome.
Elana wys voorbeelde en gebruik plakkate van verskillende orgideë en bespreek wat die beste omstandighede vir orgideë is, hoe jy orgideë moet plant en water gee, wat hulle voeding behels asook hoe om hulle te versorg.
Versorging:
• Verwyder gereeld lelike blare;
• Vee blare gereeld met ’n klam lappie af om van stof ontslae te raak;
• Kyk gereeld vir luise en slakke en behandel die plant daarteen;
• Gee plant een of twee keer per maand kos. Dit is veral nodig omdat die dreinering so goed is in orgideëplantmedium;
• Stut blomme in blomtyd.
Voeding:
• Voed plant met kos hoog in stikstof (N) gedurende groeityd; (Leaves and shoots)
• Voor blomtyd moet plant gevoed word met voeding wat hoog is aan fosfor (P) om blomgroei te bevorder. (Flowers and fruits)
Lag lag lapdoeke: Luané McLachlan, ma van ’n baba asook ’n kleuter, vertel entoesiasties hoeveel beter die gebruik van lapdoeke vir die omgewing sowel as vir jou kind is. ’n Verskeidenheid lapdoeke is in die handel beskikbaar, maar dit is belangrik dat jy doeke van kwaliteit koop. Sy meld dat goeie tweedehandse doeke ook op die internet beskikbaar is teen billike pryse. Sy demonstreer die verskillende doeke en gee wenke oor die was van lapdoeke.
Super juice me: Elizma Steenkamp is ’n voorstander daarvan om gesond te eet. Sy moedig ons aan om soveel moontlik rou kosse te eet omdat dit baie beter vir ’n gesonde liggaam is as gaar kosse. As jy rou groente en vrugte versap, sit jy dadelik lewendige selle terug in jou lyf. Sy moedig ons aan om altyd die gesonder opsie te kies en verskaf 6 resepte vir sap. Sy het sap voorberei waaraan die lede kon proe.
Basiese sap: twee derdes wortels of appels, een derde seldery, komkommer, groen blare, groente, gemmer en suurlemoen, sorg vir ’n aangename voedsame drankie.
Kweek jou eie rose: Seppie Peyper van Richmond-distrik vertel hoedat sy begin het om steggies te maak van rose wat sy persent gekry het. Sy sê dat sy dink dat haar sukses in die eenvoud van haar metode lê. Sy gebruik geen hormoonpoeier of spesiale grondmengsels nie en is baie suksesvol!
• Sy knip steggies van nuwe sterk, stewige lote sodra die rose begin blom;
• Die onderste twee blare word afgebreek, asook die boonste, sodat daar net twee blare waarvan die punte ook weggeknip word,
oorbly;
• Steggies word onder skuins gesny en net so in gewone grond in die skadu geplant. Die “ogies” waar die onderste blare afgebreek
is, moet onder die grond wees;
• Hulle word goed nat gehou, teen die stammetjie;
• Die kop van ’n 2 liter plastiekkoeldrankbottel word afgesny en die bottel word stewig oor die steggie geplaas en daar gelos;
• Wanneer die plant die koeldrankbottel vol gegroei het, haal sy dit af en los dit vir nog so ’n maand in die grond;
• Nou eers is die nuwe rose gereed om in sakke oorgeplant te word.