Landbou & Tuinbou en Leefstyl Oktober 2020
Renée Swanepoel – October 25, 2020
LANDBOU EN TUINBOU EN LEEFSTYL GEKOMBINEERDE VERGADERING OKTOBER 2020
Jenny Ballantyne, Ronelle van den Bosch en Louw Kruger is Murraysburgers wat ‘n passie deel vir die weldstand van diere, veral in die agtergeblewe deel van Murraysburg. Hulle is deel van die “Murraysburg Animal Welfare” span. Saam met ‘n span gemeenskaps-veeartse van Beaufort –Wes onder leiding van ‘n veearts, Jaco Pienaar (ook ‘n Murraysburger), is hul besig om stadig maar seker ‘n groot verskil te maak in die welstand van die diere in Murraysburg dorp en omgewing. Twee dae elke maand is uitgesit vir ‘n dierekliniek in Murraysburg. Een dag doen hul sterilisasies en kastrasies en die ander dag is ‘n kliniek dag. Hierdie dienste word gratis aangebied.
Hierdie nie-winsgewende organisasie is dus afhanklik van fondse. Jenny Ballantyne is betrokke by die reël van , o.a., verblyf, borge en inspuitings, Ronelle van den Bosch is in beheer van die kliniek, reël afsprake en sorg dat alles vlot verloop tydens kliniek dae. Louw Kruger hanteer weer die veearts deel van die kliniek dae. Die diens is nie net tot die dorp se diere beperk nie. Die arbeiders op plase kan ook hul diere na die dae bring om behandel te word.
Elizma Steenkamp deel haar droom “Karoo Spirit” met die lede . Haar passie vir die Karoo en wat die Karoo het om te bied kom duidelik na vore terwyl sy praat oor wat die Karoo vir talle gejaagde siele kan beteken. Die feit dat die leefstyl eenvoudiger en minder gejaagd is maak dit die ideale plek vir gesinne en vriende om weer innerlik verkwik te word. Die voorstel is om ‘n webtuiste op die been te bring wat as ‘n soort gids sal dien waar verblyf, aktiwiteite, ‘n aanlynwinkel, belangrike datums, ‘n safari ketting en dies meer alles beskikbaar sal wees. Volgens haar is die tyd nou reg vir hierdie tipe blootstelling aangsien dit lankal nie meer gaan oor die “survival of the fittest” nie, maar dat mense moet saamstaan om saam groter hoogtes te bereik. In die tye waarin ons nou is, waar binne- landse toerisme weer nuwe hoogtes gaan bereik, is hierdie die ideale geleentheid.
Chrisma van der Merwe is ‘n boervrou van Murraysburg wat al baie blootstelling gehad het op o.a. Radio Pretoria FM en in tydskrifte soos Landbouweekblad, Platteland en Vrouekeur. Sy was ook al op die voorblad van die Advertiser, die plaaslike koerant en gaan ook een van die dae op die Kyknet program, Kwêla verskyn. Haar storie is ‘n storie wat ander inspireer . Sy het bekendheid verwerf met haar produk FAT SHEEP wat alreeds landwyd verkoop word. Sy het nie in sak in as gaan sit toe die droogte knel nie. Sy het alles probeer om haar man te help om die kontantvloei aan die gang te hou en so is FAT SHEEP gebore. Met die 100 tot 200 bestellings wat maandeliks inkom, waarvan “Vettie” nog steeds die gewildste is, moes sy hulp inroep. Vernuftige hekelaars van oraloor het begin help. Party hekel net bene, ander ‘n ander deel en dan moet alles weer terugkom Murraysburg toe om vasgewerk te word. Hiermee help haar vriendin Carine van Heerden. Carine verwys glimlaggend na haarself as die persoon agter die skerms. Ten spyte van grendeltyd, stadige diens en nog ander struikelblokke wat oor haar pad kom is sy ‘n vegter wat nie tou opgooi nie en so het sy nie net haar eie maar ook vele ander se lewe beter gemaak met die inkomste wat hul uit die skapies verdien. Haar geheim lê in haar veggees en die feit dat sy haar produk gedurig vernuwe. Met ‘n verskeidenheid van skapie fietsryers, ballerinas , gordynwegbinders trooskombersies en nog vele meer hou sy die publiek heeltyd nuuskierig oor wat volgende op die lys is. Haar grootste bestelling op een slag was 360 skapies vir Afrivet vir hul Afri Tags. Daar is nog ‘n paar nuwe vooruitsigte in die pyplyn en nog hope idees.
Hierdie dinamiese vrouens het ieder en elk wat die vergadering bygewoon het opnuut inspireer.
Foto: Dr. Ninke Voigts, dr. Suzaan Steyn, Ronelle van den Bosch, Jenny Ballantyne en Louw Kruger.