Landbou & Tuinbou September 2021

Renée Swanepoel  –  September 30, 2021

 

                                                                                                                                                                      Elana Grobler, sameroeper van Landbou en Tuinbou, Murraysburg, beveel die boek “Begin jou eie

Groentetuin” deur Johan van Zyl en Pieter van Noord aan.  Dit is ’n baie volledige boek wat

jou stap vir stap lei om suksesvol ’n groentetuin te maak.

Sy stel lede ook bekend aan kleefplastiek en plastieksakke wat bio-afbreekbaar is en selfs op jou komposhoop gegooi kan word!

 

Versameling van broodsakkie-knippies vir die rolstoelprojek: 

As motivering vir hierdie verdienstelike projek, gee Renée Swanepoel, voorsitter, inligting deur aan die lede:

  • Oorlede tannie Elsie Smuts was die dryfkrag vir hierdie projek in ons tak. Aanvanklik het sy ’n skoendoos hiervoor oorgetrek en hom elke vergadering getrou op die tafel kom neersit vir die knippies.  Later het die lede sommer spontaan hul sakkies met knippies vergaderings toe gebring.  Op die oomblik is daar baie individue en instansies wat Murraysburg VLV ondersteun deur ook vir ons knippies bymekaar te maak.
  • Die Polistireenorganisasie van SA is die insamelaars van die knippies en deesdae ook plastiek opdraaibottelproppe. Die verwerkers (herwinnaars) koop die knippies per kg van die organisasie en gebruik die geld vir rolstoele vir minderbevoorregte gestremdes.
  • Landwyd is honderde versamelpunte hiervoor. Die projek het so uitgebrei dat dit ook in Australië en Japan gedoen word.
  • Ongeveer 600 000 broodknippies = 220kg, word benodig om vir 1 rolstoel te betaal.
  • Daar is reeds meer as 3 000 rolstoele aan minderbevoorregtes in SA geskenk.

 

Die Cape Vulture Projek:

Danielle du Toit, ’n werknemer van Karoo Vulture Safe Zone gee met ’n blitsflitsaanbieding vir ons inligting oor wat ’n aasvoëlbewaringsgebied behels en die stappe wat gevolg word om so ’n bewaringsgebied te vestig.  Sy beklemtoon dat alles wat hulle doen slegs voorstelle aan boere is.  Hulle wil graag met boere saamwerk om die beste uitkoms te verkry.

Sy bespreek  die redes vir aasvoëlvrektes en hoe om dit te voorkom.

 

Chris Barr – Hope to Grow

Groot opgewondenheid heers in Murraysburg oor hierdie groentekweekprojek wat in wording is.  Die MSDC (Murraysburg sustainable development Council) neem leiding hiermee.

Die doel van die projek is voedselsekuriteit vir die dorp – om altyd voedsel bekostigbaar te kan verskaf.

 

Een van die groot uitdagings is om alle afloopwater na ’n dam te kanaliseer deur die reeds bestaande kanale in die dorp.  Hulle hoop om ou steenkoolgate te verbind en in een groot dam hiervoor te verander.  Die MSDC beoog om die projek met ’n valkoog dop te hou en in te spring en te help waar probleme opduik.

 

Skadunette is reeds opgerig en in Desember behoort hulle hul eerste groente te oes.

Chris meld dat hulle wonderlike samewerking kry van die Wes-Kaapse Dept. van Landbou wat saam met die MSDC glo in die sukses van die Hope to Growprojek.