Leef in die líg, lééf die lig en wees skítterend! (Susanna van der Merwe)
Renée Swanepoel – November 22, 2024
2024 was ’n besonderse lang jaar as ’n mens kyk na die woelinge regoor die wêreld, maar nogtans is die jaar soos ’n vingerklap verby! Kan jy jou 2024 in een woord opsom? Dalk vreugde, angs, teleurstellings, verrassings of oorweldigend?
2024 lyk dalk soos ’n warboel van gebeurtenisse, maar midde dit alles laat dit ’n mens wonder of jy werklik vanjaar jou roeping voluit uitgeleef het. Volgens wie se standaarde lewe ons? Leef ons volgens Bybelse waardes en standaarde?
Hoe lank moet die wêreld nog soos in 2024 op dieselfde pad van oorloë, vasgekeerde ondergrondse mynwerkers, geweld, geweld teen kinders en vroue, moorde, voedselvergiftiging, ens. voortgaan? Wat is ons houding daarteenoor?
Mej. SA van 2024 het onlangs onttrek aan die mej. Wêreldkompetisie. A.g.v. haar kogleêre inplanting word die geraas van skares en harde musiek te veel vir haar brein om te verwerk. Sy het stilte nodig. Aan die einde van hierdie besige jaar is dit dalk vir ons ook nou tyd om stil te word en introspeksie te doen. Dan sal ons onthou van groot krisisse in ons gemeenskap of gesinne waar God by ons was en ons deurgedra het. Ons kan dink aan ’n swanger mamma wat uiters siek geword het, maar haar baba behou het en vandag saam met ons kan wees. Ons kan dink aan familielede wat erge ongelukke oorleef het en net deur God se genade heelhuids daardeur gekom het.
Ons moet lewe in die lig, in God se Lig! Ons moet elke dag liefde leef! Susanna haal aan uit Les Misrables waar mense baie moeilike tye in die rewolusie oorleef het, en aan die einde in die Lig gaan staan het en gesê het: ” … to love another person is to see the face of God.”
Susanna vertel die verhaal en herkoms van die lied Stille Nag. “… lig uit lig … en die duisternis swig …” Sy lees Elizabeth Eybers se gedig, Maria, voor.
Ons weet nie wat 2025 inhou nie, maar as ons die pad saam met ons Hemelse Vader stap, sal Hy die pad aanwys. Hy sal vir ons die Bethlehemster wys, die helder Lig wat ons moet inlaat en wat helend is!
Sy moedig ons aan om ons in 2025 daarop toe te lê om die mooi in mekaar raak te sien, om ’n lewe te leef wat liefde uitstraal en om ons lig te laat skyn soos die Bethlehemster! As ons dan aan die einde van 2025 terugkyk en die jaar in een woord moet opsom, moet ons kan sê: “Skitterend!”