Leefstyl 13 April 2022

Renée Swanepoel  –  April 19, 2022

 

Loombrei-demonstrasie:  Hierdie interessante, nuwe manier van brei/weef is aan die meeste van die lede onbekend.  Op haar kenmerkende deeglike manier, demonstreer Alna Theron aan ons hoe om die verskillende “looms”/weeframe suksesvol te gebruik om ’n verskeidenheid artikels te weef.  Sy vertoon ook artikels wat met verskillende breidraaddiktes geweef is.  Sy deel wenke tot sukses.

 

Franse sakke:  Adrie vertoon ’n hele reeks handgemaakte sakke uit Frankryk.  Hul Franse skoondogter het onlangs begin om naaldwerk te doen.  Sy gebruik net Franse katoen-  bekleedselmateriaal en maak die pragtigste sakke.   Op hul onlangse besoek aan hul ouers, het sy ’n reeks sakke as geskenke vir hulle na S.A. gebring.

 

Fondant Koekversiering:  Juanita Bellingan, ’n jong boer in die distrik, bak en versier graag   koeke vir spesiale geleenthede.  Sy demonstreer aan ons hoe om ’n koek van begin tot end te  hanteer en al die stappe wat gevolg moet word om die koek met die fondant te bedek en te versier.  Sy demonstreer ook hoe om koeke op mekaar te stapel sonder dat hulle insak, hoe om ’n fondant-roos en fondant-strikkie te maak en dit op die regte manier te laat droog word voordat die koek daarmee versier kan word.  Sy beklemtoon dat duur toerusting regtig nie nodig is nie en dat ’n  mens baie dinge uit jou kombuis kan gebruik wat dieselfde effek gee as baie toerusting.

 

Ontspanningsitem:   Die onverwagte ontspanningsitem is ’n aangename verrassing!  Klein

Adriaan Martin, 3 jarige seuntjie van Margaret Martin en leerling aan die Elsjé Krüger Privaatskool op Murraysburg, lees vir ons klankies uit ’n leesboekie voor.  Hierna sing die vrymoedige, ou seuntjie vir ons Hansie Slim.

 

Adrie Conradie se Leefstylprogram sal nooit kan plaasvind as daar nie een of ander interessante gebak uit haar en Margaret se toetskombuis op die tafel is om aan te proe nie.  Hierdie keer word daar ’n heerlike en baie interessante murgpampoentjie- en kaasbroodjie tydens teetyd bedien.  Soos altyd word die resep vrylik met die lede gedeel.

 

Elkeen wat deel aan die vergadering gehad het, ontvang ’n stringetjie sosatiewors.  Nog ’n heerlike uitvindsel van hul toetskombuis op Kareebosch!