Meer as net mure: Die verlede, die hede en ’n stukkie van my!

Renée Swanepoel  –  February 21, 2025

 

Dr. Anziske Kayster, kuratrise van die Graaff-Reinetse Museumkompleks, is al 28 jaar lank verbonde aan die museums.  Sy vertel dat sy verknog is aan die museum en dat dit, naas haar familie, haar tweede liefde is.  Haar passie en liefde vir die museum, wat sterk in haar praatjie na vore kom, was baie duidelik in die interessante vertellings waarmee sy haar praatjie verryk het.

 

As ’n laerskooldogtertjie aan ’n plaasskooltjie in die Wolseley-distrik, was sy saam toe die skool die Kasteel in die Kaap besoek het.  Die Kasteel het destyds ’n militêre regiment van die SAW gehuisves en hulle gids was dus ’n soldaat in uniform.  Hulle het die Kasteel van Katzenellenbogen tot Leerdam bekyk, maar toe die deur van die Donker Gat agter hulle toeklap, het die kinders gejil en gegil in die stikdonkerte!  Sy vertel dat sy niks bang was nie, maar in haar gedagtes het sy vir Adam Tas teen die donker muur vasgeboei sien staan.  Net daar het haar liefde vir Geskiedenis en die bewaring daarvan begin.

 

Anziske beskryf haarself as ’n erfenispraktisyn en teoretikus en nie ’n historikus nie.  Sy verduidelik dat ’n historikus datums en geskiedkundige gebeure onthou, maar dat ’n erfenispraktisyn slegs gedeeltes van die geskiedenis waarin hulle belangstel, bestudeer en navors.  Europese geskiedenis boei haar glad nie, maar die Tweede Wêreldoorlog geniet haar volle aandag, juis omdat sy die Graaff-Reinetse veterane, almal lede van die Middellandse Regiment, leer ken het toe sy by die Museum begin werk het.

 

Wanneer so iets gebeur, word die Geskiedenis tasbaar, opwindend en verbind dit jou op ’n emosionele vlak met die verlede. Dan begin ’n mens verstaan wat die verskil tussen Geskiedenis en erfenis is:  Met erfenis kies mense dele van die verlede wat vir hulle kosbaar is om te onthou, waarmee hulle identifiseer en wat deel is van hulle kultuur.  Die aaklige werklikhede word gewoonlik gerieflikheidshalwe vergeet.

 

Inwoners en besoekers aan die Graaff-Reinet museums, wil hul erfenis sien, uitstallings van artefakte waarmee hulle kan identifiseer.  Die personeel is in ’n moeilike posisie, want die museum moet ook ’n gemeenskapsmuseum wees wat aan verskillende kulture blootstelling gee.  Dit doen hulle wel.

 

Vandag is die museums een van die vyf grotes van die Oos-Kaap en word bestuur deur ’n plaaslike Trusteeraad en die Dept. van Sport, Kuns en Kultuur, tans onder die aanvoering van minister Gayton McKenzie.  Die kompleks bestaan uit vyf geboue, waarvan vier in die eerste helfte van die 1800’s opgerig is.  Die Militêre museum en die Argief is in 2005 met eie fondse opgerig.  Die versamelings sluit in:

  • ’n uitgebreide paleontologiese versameling van Karoo fossiele;
  • Kaap Hollandse meubels;
  • ’n klereversameling wat uit ongeveer 4 000 voorbeelde bestaan;
  • ’n historiese geweerversameling en nog baie meer.

 

Dis egter in die Argief waar die meeste  interessanthede opgesluit lê.  ’n Gedeelte van die Argief beslaan die boonste verdieping van die Militêre museum.  Daar is ook ’n dokumente-argief in die anneks van die Urquharthuis.  In die Argief word ontelbare historiese rekords asook driedimensionele artefakte gestoor.  Daar is ’n groot versameling historiese foto’s, meestal deur die fotograaf William Roe.  Hierdie foto’s word tans gedigitaliseer.  Daar is ook honderde historiese koerante wat die Advertiser/Murraysburger en Graaff-Reinet Herald insluit. Die Argief is ’n wonderlike bron van inligting, net die reuk van al die ou dokumente voer jou sommer terug na die verlede!

 

Anziske se gunsteling artefak in die museum is ’n brief van David Livingstone aan Charles Murray waarin hy hom bedank vir sy gasvryheid toe hy hom in die Reinethuis besoek het.  In sy brief beskryf hy die groot tuin met vyeboom waaraan hy sy perd in die Reinethuis se tuin vasgemaak het.  Charles Murray was ’n kranige tuinier en het vir sy besoekers gevra om in ruil vir sy gasvryheid vir hom plantsteggies as geskenk te bring as hulle kom kuier.  Die baie ou, historiese wingerdstok in die Reinethuis se tuin het op hierdie manier daar beland en wel om die geboorte van een van Charles Murray se seuns te vier.

 

Anziske het groot belangstelling onder die dames uitgelok toe sy ’n yslike tas met  interessante artefakte wat sy saamgebring het, oopgemaak en bekendgestel het.  In die tas was onder andere:

  • Die argitek, Norman Eaton se sketse van deure, grendels en sleutels van die Reinethuis;
  • ’n Afskrif van die brief van David Livingstone aan Charles Murray;
  • Die Anglo-boereoorlog slangetjie – deur ’n gevangene gemaak;
  • ’n Riena Reinet pop wat in die destydse poppefabriek op Graaff-Reinet gemaak is;
  • ’n pienk gebreide trourok;
  • Kant uit die versameling;
  • ’n druiwe-ontpitter;
  • Robert Sobukwe, ’n boorling van Graaff-Reinet, se gradeplegtigheid keps;
  • ’n Rock Art

 

Dr. Anziske Kayster                  ‘n Riena Reinet pop