OPVOEDING & KULTUUR VERGADERING 23 MEI 2018

Renée Swanepoel  –  May 29, 2018

 

Die befaamde skryfster/sangeres/dramaturg/kruiekoningin, Antoinette Pienaar het onlangs haar splinternuwe boek Die lang man sonder skaduwee by ’n VLV vergadering op Murraysburg bekendgestel.  Oom Johannes, kruie- en veldkoskenner en bedrewe storieverteller, het haar vergesel.

Alhoewel Antoinette baie bekend is in Suid-Afrika, vergeet sy nooit die platteland nie.  Sy doen baie moeite om haar boek in klein Karoodorpies bekend te stel. Die lang man sonder skaduwee is ’n wegholsukses wat al sy derde druk belewe!

By die afgelope Woordfees op Stellenbosch is Antoinette se boek ook vereer met die toekenning as  beste boek op die Woordfees.  Oom Johannes het ook nie agterweë gebly nie en hy is vereer met ’n toekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse Letterkunde.

Antoinette het haar gehoor met haar energie en lewensblyheid in die holte van haar hand gehad!  Sy het met ’n raaisel weggespring en ons gevange gehou vir ’n reis deur haar nuwe boek “Die lang man sonder skaduwee”. Ons is meegevoer deur haar dramatisering van stories, rympies en raaisels …  en die wete dat jy jou “glo” voor jou “bang” moet neersit en jou “glo” voor jou “wanhoop” moet staanmaak.

 

Adri Kruger, onderwyseres aan Hoërskool Murraysburg, het ons in die vorm van ’n tweegesprek, bekend gestel aan basiese isiXhosa.  Hierdie kennis sal ons sal help om in ons daaglikse omgang beter met isiXhosasprekers te kommunikeer.

isiXhosa is ’n baie fonetiese en mooi taal en woorde word uitgespreek soos dit geskryf word.  Die PH-klank  word byvoorbeeld nie as ’n F uitgespreek nie, maar as ’n P, bv. Sipho.  Die woord “sifo” het ’n heel ander betekenis – siekte!

Daar is slegs 3 klapklanke:

  • Q harde klank, tong teen verhemelte;
  • C uitgespreek soos ts, tong teen voortande;
  • X spoegerige klapklank.

Baie lang woorde is eintlik in der waarheid hele sinne, bv.:

  • Ndiyakuthanda Ndi = ek   Yaku = vir jou   Thanda = liefde

Groetvorme:

  • Molo – enkelvoud Molweni – meervoud
  • Molweni bantu bam =  môre/hallo mense van my
  • Molo mntwana =  hallo kind
  • Molweni bantwana =  hallo kinders
  • Molweni manene namimanenekazi =  hallo dames en here
  • Molo sithandwas am =  hallo my liefie
  • Andikuva, ndithetha isixhosa kuncinci =  Ek verstaan nie, ek praat net ’n klein bietjie xhosa
  • Sala kakhule =  stay well
  • Hamba kakhuhle =  go well