VLV afsluiting – Gesondheid

Bruce McLachlan  –  November 22, 2018

 

Muraysburg se kersvergadering is in die tuin van die pragtige Badsfontein van Izak en Susanna van der Merwe gehou.  Ons spreker was Izak en Susanna se jongste dogter, Madeleine Voges.

Nadat hulle ’n paar jaar vasgevang was in die veeleisende maalkolk van die korporatiewe wêreld, het Madeleine en haar man hul werk bedank, huis opgepak en besluit om die Camino Pelgrimstog in Spanje aan te pak.  Erns Gründling se boek oor die Camino was hul inspirasie, hulle wou in sy spore stap, maar het baie gou agter gekom dat die Camino vir elkeen uniek is.

Die pelgrimstog staan ook bekend as The Way of St James of Die Jakobsweg (Duits).  Daar is verskillende roetes om uit te kies, hulle het die Franse roete wat 780km beslaan en oor 33 dae strek (Jesus se tyd op aarde) gekies. Al die roetes eindig in Santiago.   In totaal het hulle 1 000km gestap oor 40 dae..

Sy vertel wat ’n mens nodig het om die tog aan te durf, hoe ’n tipiese dag op die pelgrimstog verloop, hoe daar kos gemaak of uitgeëet word en redes waarom die tog aangepak word.  Omdat daar in herberge in gemeenskaplike kamers oornag word, het stappers min alleentyd as hulle saans tot ruste kom.  Vir introspeksie oor die dag se belewenisse, het hulle dikwels saans uitgegaan na die dorpspleine waar hulle op die bankies kon gaan sit om stil te wees en te mediteer.

Die Camino het hulle geleer om meer dankbaar te wees, om bewus te wees dat mense jou eerder wil help as te na kom, dat jy kan oorleef as jy gestroop is van geriewe, die internet en selfone, die waarde van yskoue water oftewel die eenvoudige in die lewe, gestroop van pretensies, om te dink hoe jy in spesifieke situasies sou optree, om met jou hartseer, smart en woede in jou lewe te handel en dat God altyd by jou is, dat dit makliker is om Sy hand in jou lewe raak te sien wanneer jy tyd maak daarvoor.

’n Pelgrimstog verskil van ’n gewone staptog omdat die rede vir ’n pelgrimstog spiritueel is en dit jou op ’n emosionele reis neem.  Die mens het van altyd af die behoefte om heilige plekke te besoek.  Op die Camino geld die spreuk “The Camino will provide” of as jy ’n Christen is, vir jouself “God will provide.”  As jy die tog met hierdie ingesteldheid aanpak, is dit nie ’n verrassing dat wonderwerke met jou en jou stapgenote gebeur op die Camino Pelgrimstog nie!