Opvoeding en Kultuur
Renée Swanepoel – June 2, 2025
Pa’s en seuns wat saam boer
Susanna van der Merwe het ’n goed nagevorste praatjie gelewer oor pa’s en seuns wat saam boer en hoe en wanneer die pa die aflosstokkie finaal aan die seun moet oorgee.
Carl van der Merwe, broer van Boerneef, wat op hul familieplaas Boplaas in die Ceres distrik boer het gesê: “Ons word van generasie tot generasie geleer dat die plaas nie aan ons generasie behoort nie. Dit word by ons kinders geleen.”
André Diederichs het al meer as 400 familieondernemings gekonsulteer. In sy boek Nalatenskap sê hy dat Van der Merwe se woorde die beste beskrywing van rentmeesterskap is wat hy al gehoor het.
Familie-ondernemings is uitdagend omdat emosies ’n impak op sakebesluite het. Daar moet ’n gesonde balans wees tussen die boerdery- en familiebelange. Die familie mag nie gelukkig gehou word ten koste van die boerdery nie. Goeie balans is die wagwoord.
Die oudste familie-onderneming in die wêreld is KongO Gumi van Japan. Hierdie besigheid bestaan reeds sedert 578nC. Die rede van hierdie besigheid se sukses, is omdat hierdie onderneming streng volgens vasgestelde waardes bestuur word. Die kinders word van kindsbeen af hierin onderrig.
In Nalatenskap gee Diederichs drie kernwaardes vir suksesvolle pa-en-seun boerderye:
- Respek is die gom wat verhoudings aanmekaar hou;
- Integriteit wat waardes soos eerlikheid, verantwoordbaarheid, regverdigheid en konsekwentheid insluit;
- Rentmeesterskap: Dit is om alles wat die voorgeslagte opgebou het, te bewaar en uit te bou vir die nageslag;
Handige wenke uit die boek Generation to Generation deur Edwin Friedman:
- Sensitiewe dinge veroorsaak soms familietwis wat dikwels die ondergang van ’n familieboerdery beteken;
- Stel ’n stel reëls vir die boerdery op, soos ’n grondwet. Hierin word besoldiging, verblyf, elkeen se tuiste, wie waar bly, verlof, ens. vervat. ’n Onafhanklike kundige kan hier van groot hulp wees.
- In die ”grondwet” moet sake soos vererwing, wie wat erf, bespreek word.
- Familieforums moet gereeld gehou word;
Kalie Schoeman, hoof van die Schoeman mega-boerdery van Groblersdal sê die volgende: “Deur die generasies is ons rentmeesters. Ons is net toesighouers van die grond. Ons moet dit beter aan ons nageslag agterlaat.” “Jy moet goed wees soos die beste, maar beter as die meeste.”

oplus_2

oplus_32

oplus_32
Maretta Theron, wie se seun ook al ’n klompie jaar saam met hulle boer, gee waardevolle, praktiese wenke oor saamboerdery. ’n Mens moenie net fokus op alles wat kan verkeerd gaan nie, maar ook die voordele van saamboerdery omarm:
- Beskou dit as ’n voorreg om die bestuur en bekommernis van die boerdery oor te gee;
- Jy het nou meer tyd tot jou beskikking om bv. rond te ry en dinge te doen wat altyd agterweë gebly het. Die baas word nou die handlanger!
- Jy het altyd gemoedsrus as jy weg is omdat jy weet jou seun en skoondogter hou nou die leisels;
- Jy is tot beskikking van jul kinders op die plaas vir raad en fisiese hulp. Jy staan byvoorbeeld in vir jul kinders as hulle iewers moet heen gaan.
- Dis ’n verskriklike groot voorreg om kleinkinders naby jou te hê!